Kersdagrowers agter tralies

BORGTOG is verlede week in die Oudtshoorn Landdroshof aan twee mans geweier wat na bewering op Kers­oggend twee ander mans buite ’n bekende nagklub in Bridgton van hul selfone, motorsleutels en ’n baadjie beroof het.

Michael Swapi (35) en Zola Maliwa (26) staan tereg op klagtes van roof met verswarende omstandighede.

Hulle word daarvan aangekla dat hulle Francois Monk en Dominique Fourie beroof, met messe gedreig en ook met klippe gegooi het. Hulle is dieselfde oggend deur die polisie in hegtenis geneem. Swapi was tydens die inhegtenisname in besit van Monk se motorsleuetels terwyl Maliwa ’n baadjie van Fourie aangehad het.

Die ondersoekbeampte, ao Darome Burger, het borgtog teengestaan omdat die twee beskuldigdes vorige veroordelings op hul rekords het. Volgens haar was daar nog ses ander mans saam met Swapi en Maliwa tydens die rooftog op die oop stuk grond langs die nagklub en regoor die Bridgton Sportgronde, alombekend as “Die Piff”.

Swapi het om borgtog gevra en gesê hy besef nou dit is verkeerd om misdaad te pleeg. “Ek het my verander en is nou ’n beter mens,” het hy op ’n vraag van landdros Theolin November gesê.

Maliwa het gesê dat hy vir sy kinders wil gaan werk en daar nie krag by die huis is nie. Hy sal onskuldig pleit omdat hy nie weet waarvoor hy in hegtenis geneem is nie.

Die landdros het bevind dat die staat wel ’n prima facie-saak teen die twee het en borgtog geweier. Hy het gesê Swapi het duidelik nog nie verander nie terwyl Maliwa nog ’n hangende saak teen hom het.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 11 Februarie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)