‘EK kom elke dag agter dat ons land emosioneel oorverhit is en dat ons mense nie net finansieel en bestaansgewyse swaarkry nie, maar veral op psigiese gebied sukkel om kop bo water te hou. Dit gaan met weinig mense goed en in die tyd moet mens maar meer geduldig en meer verdraagsaam met mekaar wees,” sê dr Wessel Vermeulen, ’n algemene praktisyn van Oudtshoorn, op ’n vraag oor die angs en stres wat mense tans ervaar.
Hy beleef dit ook in sy praktyk, sê hy.
“Ek, en ook die sielkundiges en predikante, merk daagliks ’n moedelose wanhopigheid oor die land se situasie op. Die Covid-19-pandemie is nie noodwendig die enigste sondebok nie. Dit is die onsekerheid, en nie vrees nie, wat aan mense se psige vreet.
“Onsekerheid oor die virus, die regering se gedurige rondspringery, die sinnelose uitsprake, opdragte, dreigemente en die groot kommer oor finansies!
“Een van my kinders het my verlede week daaraan herinner dat sy pa hom geleer het dat mens eintlik bereid moet wees om alles in jou lewe te kan verloor en op te offer vir die voorreg om jou gesin in die veilige geborgenheid van liefde en goeie gesondheid te kan ervaar.
“Suid-Afrikaners het dit die afgelope tyd begin vergeet en letterlik vir dekades te gemaksugtig, gierig en luuks begin leef.
“Dit alles sal nou onherroeplik verander – die mensdom sal homself moet herdefinieer en re-route. Dit is nou die tyd vir adapt or die en dit is nie noodwendig altyd so slegte idee nie.
“Dorpe soos Oudtshoorn kan nie oornag reggeruk word nie – daarvoor was die hewigheid van die droogte op ons belangrike boerderygemeenskap, die afskaal van toerisme en die kansellasie van die KKNK en nou die Covid-19-kersie net te veel om die Oudthoorn-koek se uitnemendheid te beskerm.
“Almal kry op een of tien ander maniere swaar.
“Ouers bekommer hulle oor hulle werk, hulle werkers, die voortbestaan van besighede en die toekoms en versorging van hulle kinders.
“Kinders verstaan nie lekker wat aangaan nie en is bang.
“Mense moet regtig nou nie vol streke en moeilik met mekaar en hulle bure raak nie. Wees sag op mekaar en veral op julle gesinne, maar ook op mense wat vir jou diens lewer of selfs waar jy koop.
“Wees voorbedag daarop om nie heeltyd negatief en in vrees met jou kinders oor hulle toekoms te praat nie.
“Personeel in besighede moet probeer vriendelik en positief wees en lyk of jy jou werk wíl doen en die bes moontlike diens kán lewer.
“Werkers moet hulle werk beskerm en nie klante met negatiewe houdings en lyftaal wegjaag nie.
“Hou op oor die selfoon praat as jy klante voor jou het. Bepaal jou aandag by jou werk en nie by jou kollega langs jou se gesprek en kougomkouery nie.
“Mevrou of Meneer, dit is nou die tyd wat julle verdraagsaam met mekaar moet wees. Moenie onnodig aan mekaar karring en kerm nie – almal is maar op ’n laagtepunt en die senuwees is op stywe snare… Selfs egpare weet baie keer min van hulle ander helftes se vrese, bekommernisse en dalk depressie of onvermoë om druk te verwerk. Veral mans hou maar maklik valse fronte voor.
“Ek moes vandag ’n baie sterk man, vooraanstaande leier in sy gemeenskap, iemand wat altyd iedere elk moes en wou help – iemand wat jare voorgevat het … probeer oortuig dat daar tog nog sin in die lewe is.
“Werkgewers en suksesvolle besige mense, praat tog mooi met jou mense. Jou woorde kan die verskil tussen oorgee of aangaan in iemand se lewe beteken. Erken mekaar se waardigheid en selfrespek.
“ Laat ons bedag daarop wees om die spanning, onderliggende angs, gevaarlike gemoedsversteurings en depressie van ons medemense raak te sien en met empatie daarop te reageer.
“Dalk is ’n sagte, sielvolle en bemoedigende kykie (agter jou masker ) in jou oog of dalk net ’n liefdevolle speelse elmboogstampie dit wat iemand anders weer petrol en moed gee vir die pad vorentoe.
“Dis nou die tyd om by mekaar in te haak en mekaar te onderskraag, al kan jy nie meer gee nie.
“Nou is die tyd om mooi maar veral sag met mekaar te werk.