38 jaar vir man wat kind en vrou aan brand steek

’N MAN van Dysselsdorp, Gert Malgas, wat sy lewensmaat en hul sewejarige seuntjie aan die brand gesteek het, is verlede Donderdag tot 38 jaar tronkstraf gevonnis. Die vrou het in die brand gesterf.

Streeklanddros Ntsoki Moni het Malgas as ’n “ge­vaar vir almal” beskryf en gesê hy toon steeds geen berou nie en het tot die einde onskuldig gepleit. Sy kon geen rede vind om van die minimum vonnis af te wyk nie en Malgas 16 jaar vir moord opgelê, 10 jaar vir drie klagtes van pogings tot moord, ses jaar vir brandstigting, en drie jaar elk vir intimidasie en regsverydeling.
Die hof het gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien kan word.