‘Ek was nog nooit so dankbaar nie en sal dié twee vroue nooit in my lewe vergeet nie,’ sê ’n Oudtshoorniet oor dié twee vroue wat sy beursie aan hom terugbesorg het, Leonie Stuurman en Belinda Muller.’ Foto’s: Garnett Wicomb
’N HOFORDONNANS in die Oudtshoorn Landdroshof se hy kan nie genoeg dankie sê vir twee vroue van Colridge View wat sy verlore beursie met byna R5 000 en al sy kaarte aan hom terugbesorg het nie.
Ao Morkel Boshoff het sy beursie verlede Saterdagoggend verloor.
“Ek was nog nooit so dankbaar nie en sal die twee vroue nooit in my lewe vergeet nie.”
Volgens Boshoff was hy en sy moeder Saterdagoggend met sy drie honde op die bakkie op pad om hondekos te gaan koop asook ander goedjies vir sy moeder.
In Condorstraat het hy verby ’n vrou met ’n groot hond gery waarna sy honde erg tekere gegaan het.
“Ek het stilgehou om hulle te kalmeer en moes daar my beursie verloor het, want toe ek vir die hondekos wou betaal, was dit weg,” vertel Boshoff.
“Ek het dadelik teruggery tot waar ek in Condorstraat stilgehou het, maar niks gevind nie.”
Volgens hom het hy sy verlies by die polisie gaan aanmeld, maar by homself gedink dat dit ’n verlore stryd is.
Tot sy verbasing en dankbaarheid het hy later die oggend ’n boodskap gekry dat iemand die beursie opgetel het.
Belinda Muller en Leonie Stuurman wat gereeld soggens gaan draf, vertel dat hulle die beursie in Condorstraat sien lê en opgetel het.
Muller het dit in die mou van haar trui weggesteek toe sy drie mans aangestap sien kom en gevrees het dat hulle die beursie sou afneem indien hulle dit sien.
Sy het op die Oudtshoorn Parkrun se WhatsApp-groep Boshoff se identiteitsdokument geplaas en daar uitgevind waar hy woon
Boshoff het Dinsdag gesê hy kan nou nog nie glo dat hy sy beursie met al sy geld, bankkaarte en bestuurderslisensie en ID teruggekry het nie.
“Ek is daai twee mense innig dankbaar en wou hulle vergoed, maar hulle het geweier.
“Hulle het uiteindelik ’n bedraggie aanvaar om ’n koffietjie iewers te gaan drink,” vertel ’n dankbare Boshoff.
Hy sê Muller en Stuurman se optrede is ’n bewys dat daar nog goeie mense is.
“Hulle verdien elkeen ’n medalje!
“Om in hierdie dae soveel geld te verloor. is nie speletjies nie.” (Deur Garnett Wicomb)
