Leer jou viervoet vriend

Generiese foto’s

Hoekom moet ek my babahondjie oplei? Die tradisie met opleiding vir hondjies was om eers op 6 maande te begin. Die siening was dat honde eers vanaf 6 maande af begin leer, en dat enige krag en energie op opleiding net tydmors was.

Dit is egter wetenskaplik bewys dat klein hondjies nes kinders is. Hul basiese karaktervorming begin reeds op 3 weke, en duur tot 16 weke. Hulle is nes klein kleuters, wat met sponsies vergelyk word. Hulle ontdek die wêreld, nuwe geluide, reuke en is ook vreesloos soos kleuters maar is.

Nes mense is die gesinstruktuur ook baie belangrik en hoe hulle leer, wat reeds begin sodra hulle sintuie (hoor, sien en ruik) genoeg ontwikkel is. Teen 6-7 weke word die hondjie na sy nuwe tuiste gebring, waar hul soms die enigste dier is.

Die hondjie word dus uit die leeromgewing, tussen ander honde verwyder, en daar kan dan verwag word dat hul dadelik op ’n gepaste manier binne die huisreëls en perke moet optree, al weet hul nog nie wat daardie reëls en perke is nie.

Ons wil hê honde moet kan sit, lê, aan leiband loop sonder om te trek, vriende wees met ander honde, besoekers vriendelik groet, nie by tafels bedel of opspring, nie meubels kou en ook nie in die huis mors nie. Dis ’n groot taak vir ’n hondjie om te bemeester, veral as hy nie al van kleins af geleer is hoe om homself te gedra nie. Dus daardie tydperk tot 16 weke van ouderdom.

Honde floreer daarop om reëls en om sy beste vriend gelukkig te maak en deur hom geprys te word. Moet dit asseblief nie verwar met die outydse teorie van “EK IS JOU BAAS” nie.

Honde is sosiale diere en pas maklik in by ’n sosiale groepstruktuur sodra hul weet wat die aanvaarbare gedrag is. Die beste manier om jou hondjie in jou wêreld te laat integreer, is om hom bloot te stel aan goed gestruktureerde klasse sonder geweld en straf.

Hier sal hy nie net gepaste hondetaal aanleer deur met ander honde te kommunikeer nie, maar ook blootgestel word aan verskillende stimuli, oppervlaktes, mense, afleidings wat hy tydens sy lewe kan teëkom, en dit met selfvertroue bemeester.

As ’n hondjie nog nooit die geleentheid gehad het om positief te reageer op bv. ’n sambreel, hoe kan ons van hom verwag om kalm te bly wanneer hy een teëkom?

Die beste geleentheid wat jy vir jou hondjie kan gee, is om by ’n geregistreerde hondeskool aan te sluit wat positiewe leermetodes gebruik. Die skool sal jou hondjie leer om ’n stabiele metgesel vir jou en jou gesin te word, en ook om mooi aan te pas by die lewe daar buite. (Deur Petra du Toit)