Op Woensdag 28 Februarie het Hoërskool Protea vir die eerste keer wedstryde gespeel op hul nuwe rugbyveld teen Hoërskool Calitzdorp.
Albei spanne het goed gespeel en die o.16’s het gelykop geëindig met ’n telling van 10-10.
Verder het die A-span nie op hul louere gerus nie en het Hoërskool Calitzdorp geklop met ’n telling van 20-10.
Die aanplant van gras op die rugbyveld was aanvanklik ’n 4-jaar projek, begin in 2018, deur Willmero Freeks, Waarnemende Adjunkhoof van die skool.
Die projek was ook deur Covid-19 gekniehalter, maar kort daarna was als weer volstoom aan die gang.
Freeks is verskriklik trots dat die finale fase van die projek afgehandel is. Hy en ’n groepie seuns het die baan ontwikkel tot waar dit nou is.
“Ek is verskriklik dankbaar vir die skoolbe- stuurspan en beheerliggaam, wie my die geleent-heid gegee het om die projek te kon bestuur”, sê hy.
Dit beteken ook dan dat rugbyspelers nou op eie bodem kan oefen vir opkomende wedstryde.
Die groep spog ook met hul eie waterman, Damian Oktober, ’n leerder wie verantwoordelik is vir die besproeiing van die veld.
Voor die opgradering van die rugbyveld was dit net dorbank, volgens Semone Jackson, ook ’n opvoeder wie betrokke was by die rehabilitasie van die veld.
“Aan die begin was dit net ’n groepie seuns wie dissiplinêre probleme gegee het, wie deel was van die projek. Later het ander leerders ook aangesluit en hulle was opgewonde om die eindresultaat te sien”, sê Jackson.
Die projek is moontlik gemaak deur die goedgunstige donasies van borge in die vorm van geldelike bydraes, sowel as saad.
Alle werk is met die hand gedoen, dus maak dit die projek ekstra spesiaal.
Hoërskool Protea het in 2017 sy deure heropen en het in 2021 sy eerste matrikulante gehad.
Volgens Freeks spog hulle met ’n redelike jong groep onderwysers, wie passiegedrewe is en gretig is om nuwe projekte aan te pak.
By Hoërskool Protea volg hulle ook ’n holistiese benadering, deur nie net op die akademiese sy van leerders te fokus nie, maar ook buitemuurse deelname aan te spoor.
Die rehabilitering van die rugbyveld is ’n goeie voorbeeld hiervan.
Volgende in die pyplyn is die herstel van die netbalbane op die skoolperseel. Persone wat wil betrokke raak by die projek, kan die skool kontak by 044 279 1953.
Enige hulp in die vorm van materiaal of selfs arbeid, is welkom. Hoërskool Protea is beslis ’n skool om mee rekening te hou! (Deur Geraldine Amsterdam-America)
Hoërskool Protea blom voort
