Ladismith Kindersorg verwelkom nuwe maatskaplike werker

Die nuwe maatskaplike werker by Kindersorg op Ladismith, Cha­nelle Michaels. Foto: Deon Meyer

KINDERSORG Ladismith se nuwe maatskaplike werker, Chanelle Mi­chaels (28), is geen groentjie in haar veld nie, maar het reeds twee jaar vir die ACVV op Riversdal gewerk.

Sy het egter toe die geleentheid ontstaan om haar vaardighede tot voordeel van die gemeenskap van haar tuisdorp te gebruik, die geleent­heid met albei hande aangegryp.

Michaels sê die belangrikste knel­punte op Ladismith wat sy geïdentifiseer het, is alkohol- en dwelm­- misbruik, werkloosheid – veral post-Covid, asook gesinsprobleme.

“Ons sal nouer met gesinne moet saamwerk en verhoudings tussen die gemeenskap en die kantoor versterk sodat skoolverlating en jeugmisdaad hok geslaan kan word,” sê sy geesdriftig.

Michaels, wat haar graad aan die Universiteit van Stellenbosch ver­werf het, sê kinderverwaarlosing en kinderverlating is euwels wat oral in gemeenskappe voorkom.

“Hoe harteloos dit ook al mag klink, sal ek nie skroom om in die beste belang van ’n kind by die howe aansoek te doen om ’n verwaarloosde kind in die sorg van goeie pleegouers te plaas nie.

“Na ’n bepaalde tydperk sal die ouer of ouers weer geassesseer word om vas te stel of hulle sodanig gerehabiliteer het dat hul kind terug in hul sorg geplaas kan word.”

Sy sê sy wil ook nou saamwerk met die plaaslike tak van die Departement Maatskaplike Dienste om uiteindelik ’n waarneembare verskil in die gemeenskap te maak.

“Ek beoog om saam met Marquin Smith, maatskaplike werker van die departement maatskaplike dienste, en selfs landdros Dmitri Mitchell ’n werkswinkel in Kinderwetopleiding aan te bied sodat die gemeenskap die erns van hierdie saak kan besef en die kantoor glad nie as ’n bedreiging beskou nie.”

Volgens haar het haar voorganger ’n funksionele kantoor met uiters bekwame personeel agtergelaat en kan sy net daar­op voortbou. (Deur Deon Meyer)