Huisbrande ’n gevaar met beurtkrag

Foto uit Die Hoorn-argief geneem deur Innes Olivier

AL hoe meer huisbrande word aangemeld noudat beurtkrag so gereeld plaasvind. Dit gebeur so maklik.

’n Eenvoudige voorbeeld hiervan: Die krag gaan af terwyl jy kosmaak en jy besluit jy gaan gou winkels toe terwyl die krag af is, maar jy vergeet die stoof aan. Terwyl jy in die dorp is, gaan die krag aan en die kos op die stoof verbrand en veroorsaak ’n brand.

’n Ander voorbeeld is die van ’n kragopwekker wat in ’n toe vertrek loop met die omgewing wat so warm raak dat die inhoud in die vertrek vlam vat. Dan praat ons nie eers oor haardroërs, ketels, ens wat aangeskakel vergeet word nie.

Wees maar paraat en maak seker alles is afgeskakel wat afgeskakel moet wees. As jy onseker is, skakel die muurprop af van kleiner toestelle wat hitte veroorsaak. By jou stoof kan jy die hoofskakelaar (die een bokant of naby jou stoof) afskakel, net om te verseker jou stoof is af.

Maak ook seker jou versekering is op datum en dat jy genoeg dekking het indien jou huis aan die brand sou slaan. (Deur Heinrich Bosman)