Mirieka Broodrÿk.
Ou en nuwe trauma kan behandel word, sê traumatoloog
DAAR is ’n lewe na trauma, en dit is nie nodig om daarmee te bly leef nie.
Dit is die boodskap van Mirieka Broodrÿk, die enigste kliniese traumatoloog in die Suid-Kaap en een van net ’n handvol traumatoloë in Suid-Afrika.
Mirieka, wat by haar praktyk op Oudtshoorn spesialiseer in die behandeling van trauma, het gekwalifiseer as traumatoloog deur die Kanadese Instituut vir Traumatologie. Sy is ook ’n geregistreerde hipnoterapeut en beskik oor ’n M-graad in maatskaplike werk (klinies).
Trauma is deel van die lewe en kan behandel word; of dit nou ou of nuwe trauma is, sê Mirieka. Trauma is enige oorweldigende gebeurtenis waaraan iemand blootgestel word en wat jou dag-tot-dag-funksionering kortwiek.
Trauma kan veroorsaak word deur ’n eenmalige gebeurtenis soos ’n ongeluk, maar aan die ander kant ook deur iets soos kindermishandeling of boeliegedrag waaraan iemand oor ’n langer tydperk blootgestel is.
Sy sê jou liggaam vertel dikwels vir jou dat jy hulp nodig het deur bv terugflitse en angs-/paniekaanvalle. Jou liggaam dui op dié manier vir jou aan dat jy swaarkry. En dat jy hulp nodig het.
“Trauma is nie net emosioneel nie, maar ook fisiologies. Daarom is daar nuwe traumaterapieë ontwikkel om mense te help om spesifiek dié trauma-oorblyfsels te verwerk.”
Een van die gevolge van die langdurige onderdrukking van trauma is post-traumatiese stresversteuring (PTSD), wat ook baat vind by traumabehandeling.
• Mirieka Broodrÿk se praktyk is geregistreer by die mediese fondsraad en konsultasies word deur die meeste mediese fondse betaal.
Kontak haar by sel 081 795 4197.