‘Nooit weer in De Rust nie’

Deidri Opperman: Gemeenskap saam

Bo: Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester (in die wit hemp) verlede Vrydag in De Rust saam met leerders en gemeenskapleiers naby die plek waar Deidri Opperman (foto regs) se verkoolde lyk op 4 September gevind is. By Sylvester staan van links Jan van der Ross (hoof van Hoërskool De Rust), Freddy de Bruin (munisipale kantoor in De Rust), en raadslede Barbara Owen en Raymond Wildschut. Foto bo: Liesel le Roux (Foto regs verskaf)

Bo: Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester (in die wit hemp) verlede Vrydag in De Rust saam met leerders en gemeenskapleiers naby die plek waar Deidri Opperman (foto regs) se verkoolde lyk op 4 September gevind is. By Sylvester staan van links Jan van der Ross (hoof van Hoërskool De Rust), Freddy de Bruin (munisipale kantoor in De Rust), en raadslede Barbara Owen en Raymond Wildschut. Foto bo: Liesel le Roux (Foto onder verskaf)

9 Deidré Opperman

Deur Liesel le Roux
DIE burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester, ver­skeie gemeenskapleiers en leerders van De Rust het verlede Vrydag­oggend saan vergader naby die toneel waar die 16-jarige Deidri Opperman se verkoolde lyk op Maandag 4 September gevind is.

Opperman se lyk is in die veld langs die N12 gevind nadat sy nie die Saterdagaand van ’n partytjie by vriende huis toe gekom het nie.

Die boodskap van al die sprekers die oggend was duidelik: So iets mag nooit weer in De Rust gebeur nie.
Sylvester het gesê die moord op Deidri moet ’n les wees vir almal.

“Dit is nie reg dat ons ’n jong kind op ’n Saterdag begrawe nie.

“Deidri se dood het ons wakker geskud om te besef ons moet almal na mekaar en na mekaar se kinders kyk.

“Ons moet ook besef ons het uitdagings en dit aanpak.”

Sylvester het gesê inwoners moet ophou om stil te bly oor onwettige sjebiens.

“Verby is die dae dat ons dit wat verkeerd is nie raaksien nie. Ons moet rapporteer wat verkeerd is. Ons moet die Polisie bel.”

Sylvester het ook die leerders van die Hoërskool De Rust wat by die byeenkoms was, aangemoedig om ge­sonde keuses te maak, en volwas­- senes om ’n voorbeeld te stel wat kinders sal wil navolg.

Die wyksraadslid vir De Rust, Raymond Wildschut, het gesê die dood van Deidri is klaar een dood te veel.

“Deidri moet die laaste kind in De Rust en die Groter Oudtshoorn wees wat sy of haar lewe op so ’n wrede manier verloor,” het hy bygevoeg.

Past Salman Owen het op sy beurt ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om op te tree teen tikhuise en saam te staan totdat alle tikhuise ge­sluit is.

• Garnett Wicomb berig dat Clifton Booysen (28) van De Rust, wat daarvan aangekla word dat hy Deidri wreed aangerand en aan die brand gesteek het, op 3 Oktober weer in die Oudtshoorn Landdroshof voorkom vir ’n borgaansoek.

Booysen het reeds om regshulp aansoek gedoen. Volgens die ondersoekbeampte, sers Alicia Willard, is sy borgprofiel ook reeds bekom.

Die saak dien voor landdros Roelf Konstabel.