Die Raubenheimerdam.
Deur Ilze-Mari Gründling
HOEWEL die vlak van die Raubenheimerdam met die onlangse reën verbeter het, oorweeg die Oudtshoorn Munisipaliteit steeds waterbeperkings as ’n waterbesparingsmaatreël.
Die vlak van dié dam, Oudtshoorn se drinkwaterbron, het na die onlangse reën tot 58% gestyg. Die vlak het verlede maand op 49% gestaan.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het daar 22 mm reën by die Raubenheimerdam geval en 36 mm in die omgewing van die Rust en Vrede Waterval.
Mangqwengqwe sê ’n item oor moontlike waterbeperkings sal voor die raad dien by die volgende raadsvergadering op 4 Oktober 2017.
“Ons moedig die publiek aan om water spaarsamig te gebruik. Die munisipaliteit beperk self tans die besproeiing van parke en oop ruimtes,” het hy gesê.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit se kommunikasie-afdeling bedryf ook tans Woensdae ’n sosiale media-veldtog oor waterbesparingswenke. Die wenke kan aanlyn gesoek word by die hutstekens (hashtags): #OudtshoornSaveWater, #SaveWater en #WaterSavingsTips. Dit kan ook gevind word by www.facebook.com/oudtmun, op die Facebook-bladsy Greater Oudtshoorn Municipality asook op Twitter by @Oudtmun. Waterbesparingswenke word ook in munisipale nuusbriewe gepubliseer.