Bo: Een van die Body Alchemy Centre se gerieflike kamers.
SY was van jongs af baie gesondheidsbewus, maar toe sy in 1996 servikale kanker gekry en daarvan genees is, het haar belangstelling in die genesing van die liggaam regtig vlerke gekry, vertel Petra Wilken van die nuwe Body Alchemy Centre op Oudtshoorn. Die sentrum is in Baron van Reedestraat 148 geleë waar die Backpackers Paradise voorheen was.
Petra sê na haar kanker het sy begin oplees en studeer met die doel om die liggaam en sy werking te verstaan. Sy het oor die jare kwalifikasies in verskeie rigtings verwerf (onder meer in refleksologie, anatomie, fisiologie, meridiaan-terapie; aku- punktuur; verpleegkunde, iridologie; berading en hipnoterapie; diepweefsel-, snellerpunt- en sportmassering en spinale belyning) en oor die jare baie positiewe terugvoer gekry en resultate met kliënte behaal.
Toe Covid-19 dus die Backpackers Paradise, haar en haar man Marius se besigheid, tot stilstand gedwing het met internasionale gaste wat nie meer die land kon binnekom nie, het die Wilkens besluit om die gebou en terrein in ’n gesondheid-toevlugsentrum (healing retreat) te omskep. Die sentrum bied ook verblyf en plantgebaseerde etes vir diegene wat ’n langer herstelprogram volg. ’n Lieflike privaat-tuin, ruim sitkamers, stoepe en ’n plonspoel bied mense die geleentheid om te ontspan, te rus en hul batterye te herlaai.
The Body Alchemy Centre bied dagbehandelings en behandelings wat oor ’n paar dae of weke kan strek (healing retreat experience) waartydens mense by die sentrum kan woon.
“Ons fasiliteer mense se program wat gereed is om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul eie gesondheid, soos iemand wat sukkel met chroniese, onverklaarbare pyn, angs, verslawende gedrag, depressie, breinmoegheid of hul eie spesifieke kwessies, behoeftes of situasie.
“Ons ontwerp elkeen se behandelingsprogram vir hom of haar persoonlik. Dié streng program bestaan uit verskillende behandelings oor ’n tydperk van twee tot drie maande.”
Petra, wat nou al 21 jaar met die menslike liggaam werk, sê haar ervaring bevestig net dat die liggaam wonderlik geskep is en ontwerp is om ditself te genees. Haar benadering is om die ligaam se eie genesingsvermoë te reaktiveer deur die gebruik van verskeie tegnieke en behandelings.
“Hoe meer ek met mense werk, hoe meer besef ek ook hoe belangrik ’n holistiese benadering is om hulle te help,” vertel sy.
Haar behandeling aktiveer verandering op sellulêre vlak met die doelwit om spanning en gifstowwe uit die liggaam te verwyder en die ewewig in die liggaam en gees te herstel.
Die proses het ’n uitwerking op ons emosionele, verstandelike en fisieke toestand en laat diepliggende trauma vry wat dikwels bedek word met lae ontkenning, spanning, breinmoegheid (brain fog), depressie en vrees.
Volgens Petra vind sy dikwels dat die behandelings nie net lae spanning en emosionele bagasie verwyder nie, maar ’n positiewe uitwerking het op mense se lewenswyse, verhoudings en lewenskwaliteit.
Lees meer oor behandelings en die sentrum by bodyalchemy.co.za of e-pos die sentrum by info@bodyalchemy.co.za
