Bly so koel hier die somer!

DIT is Februarie en gewoonlik die heel warmste maand in die Klein Karoo!

Met die kwik wat al ’n paar keer dié somer to bo 40° C gestyg het, kry almal warm met baie inwoners wat nie lugverkoeling by die huis het nie. Hoe kan ek dus koel bly sonder ’n lugversorger en sonder om baie geld uit te gee?

Oor die vorige dekades het ons voorgangers hierdie Klein Karoo-hitte oorleef, so ons kan ook. Deur net ’n bietjie inisiatief aan die dag te lê, kan ons almal die hitte trotseer.

• Maak alle deure en vensters toe in die dag. Trek ook gordyne toe en maak die blindings toe.

• Maak ook die deure toe van kamers wat nie gebruik word nie.

• Gebruik gordyne met ’n sonblok (blackout). Dit hou glo 30% van die hitte uit.

• Maak ’n bak vol ys en plaas dit voor jou waaier sodat die wind oor die ys waai. Of vries water in bottels en hang dit voor jou waaier. Onthou om ’n bak op die vloer te sit om die druppende water op te vang.

• Skakel rekenaars en skootrekenaars en die TV af as jy dit nie gebruik nie.
Die toestelle genereer baie hitte.

• Gebruik katoenlakens.
Dit is koeler as van die ander soorte lakens.

• Verander jou dakwaaier se rotasie sodat die waaier anti-klokgewys waai – dit forseer koel lug na onder.

• Sit van die “boks”-tipe waaiers in jou venster sodat dit warm lug in die aand kan uitsuig.
Of sit andersins een waaier wat uitsuig aan die een kant van die huis en ’n ander wat koel lug van buite intrek aan die ander kant. Maak seker jy veroorsaak ’n “trek” soos die ou mense gesê het.

• Probeer om nie jou stoof te gebruik nie.

Maak kos buite of braai!
• Vervang gloeilampe met CFL- of LED-lampies wat minder hitte afgee.

• Maak jou vensters oop in die nag.
Nou hoor ek al klaar: “Die mu­skiete gaan my opvreet”. Oorweeg dit om sif voor die vensters te sit soos die ou mense gemaak het of gebruik andersins muskietwerende produkte wat in die handel beskikbaar is.

• Plaas waaiers in die koelste deel van jou huis en laat dit in die rigting van die warm deel waai.
So trek jy ook die koel lug van buite af in.

• Moenie jou staanwaaier laat roteer nie.
Hou dit stil en laat dit ’n stroom/dwarrelwind maak.

• Maak lakens nat en hang dit voor jou venster; dit sal die lug lekker afkoel.

• Het jy geweet ’n warmsak is nie net ’n goeie vriend in die winter nie?
Maak ’n warmsak vol water, vries dit en gebruik dit om jou af te koel as jy gaan slaap.

• Maak ’n lap of handdoek nat en gebruik dit as ’n “kombers” om jou koel te hou.
Party mense gaan lê glo selfs op ’n klam handdoek as hulle gaan slaap…

• As jy self iets wil bou om jou te help om af te koel, is daar verskeie YouTube-videos wat jou kan inspireer, soos die volgende twee:

https://www.youtube.com/watch?v=TpqUr6bEYOs
https://www.youtube.com/watch?v=E2Wy1ySHbMk (Deur Heinrich Bosman)