Sowat 300 Oudtshoorn-ouers en opvoeders woon funksie by
By ’n onlangse funksie vir ouers en opvoeders van Oudtshoorn wat gehandel het oor Aandagafleibare Sindroom (ADS) was van links Reinet Saunders van Flordis, dr Andre Swart, pediater van George, dr Wessel Vermeulen van Oudtshoorn en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, en Waldo Cloete, hoof van die Laerskool Wesbank. Die funksie is aangebied in die saal van die Laerskool Wesbank en alle ouers en opvoeders van Oudtshoorn is uitgenooi om dit by te woon. Foto: Liesel le Roux
Deur dr Wessel Vermeulen
TYDENS ’n spoggerige funksie wat op Donderdag 9 Mei by Laerskool Wesbank plaasgevind het, is insiggewende raad en waardevolle kennis aangaande die diagnose en hantering van Aandagafleibare Sindroom (ADS) met die gehoor van bykans 300 gaste gedeel.
Die uitnodiging was spesifiek aan alle Oudthoorn-ouers en -opvoeders gerig en is deur opvoeders van verskeie skole en ouers vanuit die gemeenskap bygewoon.
Die sprekers was die bekende pediater en kenner van dié sindroom, dr André Swart, asook dr Wessel Vermeulen, algemene praktisyn en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging wat die aand saam met Flordis geborg het.
Weens verskeie redes (hoofsaaklik toenemende en veranderende eise, omstandighede en verwagtings) is daar ’n kommerwekkende toename in die gebruik van stimulante wat gebruik word vir aandagafleibaarheid.
Studies toon dat 2,1% van leerders 15 jaar gelede medikasie in die een of ander vorm gebruik het, maar dat dit deesdae tot so hoog as 5,7% is in sekere prestigeryke en meer gegoede dele van die Westerse wêreld. Dit wek kommer dat al meer suksesvolle en vermoënde ouers se kinders die middels gebruik.
Dit is ook interessant dat in lande soos Japan, Thailand en China, wat van die “slimste” kinders op wiskundige vlak ter wêreld het, die middels selde indien ooit gebruik word. Heeltemal tereg behoort daar ernstig oor die redes besin te word.
Die sprekers het klem daarop gelê dat die stimulante nie ondeurdag, voor-die-voet en sonder deeglike evaluering deur opvoedkundige sielkundiges en arbeidsterapeute in noue samewerking met die opvoeder en pediater gebruik moet word nie.
Middels vir ADS by normale kinders en studente kan tot katastrofiese gevolge lei en daar is ernstige newe-effekte waarvoor daar deeglike maandelikse evaluasies en opvolg nodig is.
Die sprekers het beklemtoon dat realistiese eise en opdragte aan kinders gegee moet word en dat dit nie noodskaaklik is dat alle kinders in kassies gedruk en almal volpunte vir alles moet kry nie.
Die doel van skoolgaan is sekerlik om akademiese uitnemendheid na te streef, maar dit moet nie ten koste van natuurlike, sorgvrye ontwikkeling en vreugde geskied nie.
Die einddoel moet nog steeds, soos altyd in die verlede, wees om gelukkige, gebalanseerde kinders te help om sy/haar regmatige plek in die samelewing na die beste van sy/haar potensiaal in the neem.
Onderwysers het geweldig baie administratiewe en asseserings- eise, maar as die individuele ontwikkeling en aandag aan leerders daardeur benadeel word, moet die onderwysstelsel kennis daarvan neem en aanpas- sings maak.
• Lees gerus meer in volgende week se uitgawe van Die Hoornwat dr Wessel Vermeu- len skryf oor Aandagafleibare Sindroom