Beweerde aanranding van student op Dysselsdorp ondersoek

Delton Fillies na die beweerde aanranding op hom Saterdagaand op Dysselsdorp.  Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
DIE Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) ondersoek tans ’n voorval die naweek op Dysselsdorp waartydens twee jong inwoners na bewering deur polisiebeamptes tydens inhegtenisname aangerand is. Die twee inwoners is ’n 17-jarige seun en ’n 18-jarige student, Delton Fillies.

Volgens inwoners met wie Die Hoorn gepraat het, het die polisie Saterdag by ’n huis opgedaag nadat ’n buurman gekla het dat die inwoners wat saam met vriende gekuier het, te veel raas.

’n Vrou wat op die toneel was, beweer die polisiebeamptes het hulle nie net oor die geraas gewaarsku nie, maar geweld in die huis gebruik toe hulle Fillies wou deursoek en hy hulle gevra het vir ’n deursoekings-lasbrief. Sy sê daar was drie of vier polisiebeamptes op die toneel.

Fillies is na bewering aan die nek gegryp, in die gesig geklap en teen ’n muur vasgedruk. Hy is na die voorval hospitaal toe geneem vir beserings wat hy na bewering tydens die voorval opgedoen het.

Volgens kapt Joey Strydom, bevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie, is die twee jong mans in hegtenis geneem op klagtes van die aanranding van ’n polisiebeampte en verset teen inhegtenisneming. “Fillies is

Sondag vrygelaat, waarna hy beweer het hy is tydens sy inhegtenisneming aangerand,” het sy gesê.

Strydom het bevestig dat OPOD die saak ondersoek.

George Meyer, ’n gemeenskapleier van Dysselsdorp, sê hy voel ongelukkig oor bewerings dat die polisie lede van die gemeenskap aamgerand het. “Die polisie is nie ons vyande nie, maar dit is hul plig om ons te dien en ons te beskerm,” sê hy.