Bo en onder: Van die klippe wat deur boere van die Kangovalleie Landbouvereniging na Tuishuis aangery is, is reeds uitgepak in
Tuishuis se tuin. Foto verskaf

BOERE wat aan die Kangovalleie Landbouvereniging behoort, ry die afgelope paar weke klippe aan na Tuishuis, ’n ouetehuis op Oudts-hoorn, waar klip nou gebruik word om die tehuis se tuine en paadjies te verfraai.
“Ons het ’n behoeftebepaling by Tuishuis gaan doen nadat die bestuur besluit het om ’n gedeelte van die inkomste wat deur die Kango Agri Expo van 2018 gegenereer was, aan Tuishuis te allokeer,” vertel Hennie-Edna Janse van Rensburg, voorsitter van dié dinamiese vereniging.”
Dáár het ons verneem dat daar ook ’n groot behoefte aan klippe is… en daarvan het ons boere baie!” sê sy.
By die laaste ledevergadering het Francois de Kock, bestuurslid wat die behoefte raakgesien het, ’n pleidooi gelewer dat elke boer elke keer wanneer hy dorp toe kom, ’n sak of twee klippe saamneem en dit by Tuishuis aflewer.
“Dit is wonderlik dat Tuishuis buite die boks dink en te midde van die droogte en waterbeperkings ’n plan wil maak om hulle tuin steeds iets vir die oog te maak.
“Ons het so baie om voor dankbaar te wees, en om ’n sak klippe te gaan aflaai, gaan nou werklik nie ons appelkarre omgooi nie – en dit bring vreugde vir mense wat dit nie meer self kan doen nie,” sê Francois.
Die Landbouvereniging gaan, buiten die aanry van die klippe, ook ’n finansiële bydrae maak ten opsigte van ’n ander behoefte wat daar geïdentifiseer is en waaroor eersdaags berig sal word.