EK weet nie of daar ander ouers is wat ook so voel nie, maar die jaar het met ’n “bang” begin. Ek gesels met nog ’n paar ouers by meer as een geleentheid, en die vergelyking wat getref word is soos daardie prentjie van die eend wat kalm bo op die dam sit. Alles lyk rustig en gemaklik, maar onder trap daardie voetjies water vir die eerste span. Die skooljaar het nou net mooi ’n week gelede afgeskop en daar is reeds ’n maand se aktiwiteite in 7 dae ingeprop, wel ek voel so. Dalk is dit omdat ek 3 kinders het.
My oudste is vanjaar in matriek, wat ek steeds nie kan glo nie, en word ek herinner daaraan dat die tyd nie meer net aanstap nie, maar teen ’n spoed voortbeur. Hierdie eersgeborene van my hou van perdry wanneer daar nie by pelle gekuier word nie, maar hy is ook baie lief vir ’n ysterperd. Dit mergel sy ma se senuwees gereeld uit want ek was mos self ook jonk gewees. Hoe vinniger hoe beter, nie dat my kinders ooit dink hulle ma was ook jonk en vol pret nie.
My middelkind pak sy laaste jaar in laerskool aan, en afgesien van daaglikse fietsry oefensessies waar hy afrigting ontvang by Corné Serfontein, is sy eerste fietsry-kompetisie hierdie naweek in George. Middae na fietsry en huiswerk, met die laaste sonstrale word die “cammo” klere van kop tot tone aangetrek en die plaas plat gery en voëls bekruip.
Die jongste pak graad 6 met oorgawe aan, en het reeds sy eerste skool atletiek byeenkoms Maandag in die bloedige hitte agter die rug. Daar verower die kind ’n 1ste plek in verspring, gewigstoot en die 100m. Hierdie mammahart bars van trots toe hy die skoolrekord vir 150m verbeter. Hierdie is natuurlik te danke aan sy passievolle afrigter Fikile Blauw, of “coach Fiks”.
Tussen elke oggend en middae se ry agter skool en sport, huiswerk wat wag, nuwe boeke oortrek vir die skooljaar wat voorlê, toebroodjies inpak, aandete voorberei sodat groeiende lywe genoeg vitamines inkry, moet ’n voldag se werk ook êrens inggepas word. Dan is daar ook oefensessies in die oggende, en pogings om nog genoeg water te drink. Dan dink ek gereeld so by myself hoeveel ouers elke dag hierdie gejaag meemaak. Jaar na jaar, deur vuurwarm teersmelt somers, bibberkoue Oudtshoorn winters, pragtige lekker-braai lente dae, en sinus belaaide herfs seisoene wanneer snotneuse volop is.
Dis amper asof ons nog probeer om alles wat ons gemis het in te haal, die tyd wat Covid-19 by ons probeer steel het, herwin. Natuurlik is ons nog bevoorreg om in ’n pragtige dorp soos Oudtshoorn te bly, waar spitsverkeer beteken een baan is toe omdat die straat se strepe geverf word, of almal kinders dieselfde tyd by die skool op- of aflaai.
Wanneer ek so kyk na alles hierbo en die tempo waarmee die lewe aangepak word, voel ek soms so bietjie oorweldig. Dan dink ek net aan my ouma. Sy was ’n besonderse vrou vir wie ek elke dag mis, en wat tot op die einde nog so baie vir ander mense beteken het en hulle bemoedig het. Ek deel graag haar eenvoudige, maar wyse woorde met ouers oral wat soms oorweldig voel:
“Gaan net aan, moenie ophou nie, hou net aan beweeg.” – Rika Venter 1935 – 2022. (Deur Angelique Erasmus)
2023 op ’n drafstap
Rika Venter (87) is verledejaar op 23 Augustus oorlede. Venter was die stigter van die SA Raad vir Sakevroue sowat 38 jaar gelede wat steeds besigheidsvroue regoor Suid-Afrika bemagtig. Sy het ook op 80 ’n boek gepubliseer oor die Grondleggers van Suid Afrikaanse Kuns. Foto: Angelique Erasmus