DA Raadslede en ondersteuners het gisteroggend tydens spitsverkeer op die hoek van Voortrekkerweg en Adderleystraat bymekaar gekom om hul teenkanting teen die verwagte 18,6% verhogings van kragtariewe te toon.
Volgens Oudtshoorn se Burgemeester, Chris Macpheron was hierdie ’n landswye inisiatief wat plaasgevind het.
’n Groot groep ondersteuners het met blou hemde en plakkate wat lees “Time for ANC-shedding”, Take the Power back”, “Loadshedding is a crime”, Loadshedding is killing jobs”, “Power to the people”, en “Stop the increase” by the verkeersligte gestaan.
“Genoeg is genoeg, ons gaan dit nie verder duld nie”,: het hy aan Die Hoorn gesê.
Volgens Macpherson word mense uitgebyt en in die donker gehou, en dat ’n verhoging absoluut onaanvaarbaar is.
Hy doen ook ’n beroep op die res van die publiek om hulle te ondersteun en te sê, hulle gaan dit nie aanvaar nie.
Macpheason het ook verlede week luidens ’n sterk bewoorde persverklaring Eskom gekritiseer en beloof dat die munisipaliteit alles in hul vermoë sal doen om die verhoging teen te staan.
“Hierdie verhoging gaan die armes en behoeftiges verder verarm en onredelike druk plaas op inwoners wat reeds te midde van strawwe ekonomiese omstandighede sukkel,”
Ekonomiese implikasies vir munisipaliteit
Volgens Macpherson het beurtkrag ernstige ekonomiese implikasies vir die munisipaliteit wat sal vererger na so ’n tariefverhoging.
- Besighede verloor handelsure wat die inkomste en salarisse van personeel beïnvloed. Dit het op sy beurt ’n negatiewe impak op die betaling van munisipale dienste.
- Die munisipaliteit bestee tans honderde duisende rande aan brandstof vir kragopwekkers.
- Met beurtkrag is watertoevoer na De Rust, Dysselsdorp en die landelike waterskema ’n groot uitdaging omdat pompe nie lank genoeg kan werk om die reservoir te vul nie.
Watervragmotors moet as gevolg hiervan groot afstande aflê om water te verskaf, wat enorme koste soos diesel en swak dienslewering tot gevolg het.
Volgende moontlike kragbronne ondersoek
Macpherson sê die munisipaliteit ondersoek tans ander moontlike kragbronne wat die munisipaliteit en inwoners minder afhanklik van Eskom kan maak. Dit sluit die volgende in: - Die aankoop van krag van onafhanklike verskaffers wat sonkrag gebruik;
- Die ontwikkeling van ’n 100 MW-sonkrag-aanleg;
- Gesprekke oor die moontlikheid om hidrokrag by die Raubenheimerdam op te wek;
- Die installering van UPS-stelsels om verkeersligte te bedryf. (Deur Angelique Erasmus)
