Gerrie Ferreira, eienaar van die Chandelier Game Lodge buite Oudtshoorn (links?), saam met van links Nico Lerm, voorsitter van Suid-Kaap Wildlife Ranching of South Africa (WRSA), Ankie Stroebel, bedryfskenner en ledewerwing, en Gerhard Heyneke, direkteur en bedryfskenner van die WRSA tydens verlede Woensdag se inligtingsessie.
Foto Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
SOWAT 60 wildboere en sakelui van die Oudtshoorn-omgewing met belange in die wildbedryf, is verlede Woensdag deur lede van die Wildlife Ranching of South Africa (WRSA) toegespreek by Chandelier Gasteplaas buite Oudtshoorn.
Die WRSA beywer dit daarvoor om ’n spreekbuis vir wildsboere en eienaars van wildsplase te wees, ook in gesprekke met die regerings.
Wildsboerdery as boerdery het volgens Gerhard Heyneke, direkteur: bedryfskamers en advieskomitees van die WRSA, veral die afgelope 15 tot 20 jaar sterk in Suid-Afrika ontwikkel.
“Ons wil graag aan wildsboere ’n platform bied waar uitdagings in die wildsbedryf bespreek kan word, en ook om inligting en hulp te verskaf aan ons lede.”
Die organisasie bied ook hulp aan ten opsigte van permitte, inligting oor voorkoming van siektes onder wild asook hulp, advies en informasie ten opsigte van spesifieke spesies.
Die WRSA woon ook skoue of geleenthede soos Nampo, die Kirkwood Wildsfees en Huntex by waar lede verteenwoordig word.
Volgens hul statistieke is slegs een bontebok-trofee in 2017 vanuit die Wes-Kaap na die oorsese mark uitgevoer en is daar baie ruimte tot groei indien reëls en regulasies verbeter kan word.
“Bedryfskamers kan hul bedryf verbeter deur by inligtingsgeleenthede te praat oor uitdagings in die bedryf en ook kommunikasie en netwerke onderling in die bepaalde streek te verbeter. WRSA-lede kan ook ’n permitboek bekom by die WRSA-kantoor om vlakvarke en bosvarke te vervoer wat gejag word.”
Wildboere is aangemoedig om by die WRSA aan te sluit.
Johann Cornelissen van ’n plaaslike versekeringsmaatskappy het die groep ook toegespreek en ingelig dat hul maatskappy versekering bied vir die vervoer en uitvoer van wild.
Nico Lerm, voorsitter van die WRSA-tak in die Suid-Kaap, het boere ingelig dat provinsiale natuurbewaringsowerhede permitte binne drie dae moet uitreik, mits alle papierwerk reg ingevul en gestuur is.
Ook die hernuwing van omhein-ingsertifikate, wat slegs vir drie jaar geldig is, moet betyds gedoen word.
Heinings word deur die boer self geïnspekteer waarna hy of sy ’n beë-digde verklaring moet aflê om te bevestig dat heinings voldoen aan die natuurbewaringsowerhede se standaarde.
“Boere moet onthou dat omhein-ingsertifikate nie oordraagbaar is wanneer ’n plaas verkoop word nie. Die sertifikaat is aan ’n persoon gekoppel, en nie ’n eienaar nie,” sê Lerm.
Hy het voorts gewys op die eko-tipe bokkies wat natuurlik in die Wes-Kaap vorkom en wat van omheiningsertifikate verwyder is. Dit sluit in die gewone duiker, steenbok, Kaapse grysbok en bosbok.
Volgens Lerm is die Wes-Kaap se uitvoergetalle baie minder is as in die res van Suid-Afrika, omdat daar baie beperkings van CapeNature is wat nagekom moet word.
Die toesprake is deur twee demonstrasies gevolg. Eerstens is teenwoordiges gewys op die korrekte manier om ’n bok se vel te verwyder wanneer ’n trofee van die kop gemaak gaan word.
Daarna is die karkas in nog ’n demonstrasie in verskillende snitte opgesny.
Ankie Stroebel van WRSA het waardevolle inligting verskaf ten opsigte van die verwerking van wildsvleis.
Gaste het na die tyd aan swartwitpens-steaks gesmul. Volgens Gerrie Ferreira, eienaar van Chandelier, is dié bokke drie jaar gelede vir sowat R300 000 per bok verkoop, maar is dit deesdae algemeen beskikbaar en word ’n swartwitpens nou vir tussen R15 000 en R20 000 verkoop.