Lorish wys een van haar klein Australiese skaaphondjies.

Lorish Olivier saam met haar seun Boas (8). Agter is hul trekker.
Deur Angelique Erasmus
OP agtjarige ouderdom het sy reeds geweet sy wil eendag haar eie plaas hê en boer, sê Lorish Olivier (29) van Olivier Boerdery Trust.
“Niks was vir my lekkerder nie as om saam met my oupa in die bakkie deur die lande tussen die mielies en beeste op sy plaas in die Vrystaat deur te ry. Ek het toe geweet, dis wat ek wil doen, ek wil boer,” vertel sy.
Op twintig het sy gestalte aan haar droom begin gee deur haar eerste plaas van sowat 20 ha te huur. Daar het sy begin met 130 ooie en lammers, ’n voerkraal en lusernsaad, en drie en ’n half jaar lank geboer.
Van soggens vroeg en tot smiddae laat het sy saam met ’n handlanger skouer aan die wiel gesit en self gehelp om vir die skape te sorg.
Maar sy het groter gedroom. “Ek het besef dat ek my eie grond sal moet koop as ek my boerdery wil uitbrei.”
Sy het twee jaar lank gesoek totdat sy die regte plaas gekry en dit gekoop het.
Die plaas, Langverwacht, is tussen Oudtshoorn en Calitzdorp. Dit is hier waar sy nou werk en droom, die plek waar sy ’n lewe vir haar en haar gesin maak.
Die plaas is sowat 300 ha groot, met 214 ha van die grond onder besproeiing en 80 ha daarvan is veld.
Sy boer hoofsaaklik met volstruise, en het tans sowat 1 800 voëls.
Wanneer dit genoeg reën, kweek sy ook lusern en lusernsaad, sê Lorish.
Sy bedryf ook ’n broeiery wat sowat 16 000 kuikens per seisoen lewer en boer met sowat 500 skape en lammers.
Volgens Lorish huur sy meestal ’n bykomende 600 ha veld by om voorsiening te maak vir al haar boerderybedrywighede.
Afgesien van die boerdery, het sy ook haar eie bou-onderneming wat in Mosselbaai bou.
Voorts teel en skou sy met Australiese skaaphonde, haar gunstelingras. Drie van haar honde is spesiaal opgelei om te help met die hantering van volstruise en skape en word op haar plaas vir dié doel aangewend.
Lorish se twee kinders, Boas (8) en Lea (6), is albei baie lief vir die plaaslewe en sit graag hand by met die boerdery. Hulle is albei ook geesdriftige perderuiters.
“Ek leef elke dag my droom, en my passie vir boerdery en die plaaslewe uit, maar dis vir my hartseer dat mense nie besef hoe moeilik dit vir ons boere is nie.
“Dit is nie meer soos in die ou dae nie toe boere nog respek en aansien geniet het. Maar ondanks dit kan ek myself nie op enige ander plek in die wêreld as op die plaas indink nie.” sê sy.