
Verskeie plase in die Klein-Karoo produseer die afgelope aantal jare amandels.
Daar is gevind dat die Klein Karoo area goed geskik is vir steenvrugte, alhoewel perskes, pruime en appelkose ’n geruime tyd reeds hier geplant word. Meeste van die amandels wat in die area geplant en geoes word, is vir die uitvoermark.
Nadat die vrugte geoes word, word die skil afgehaal, die neute gekraak en geklas. Sommige plase het hul eie verwerkingsaanlegte en ander stuur die neute na Robertson vir verwerking.
Die grootste gedeelte van oeste word na lande in die Ooste uitgevoer. Vanjaar se oes is egter erg deur die onverwagte laatkoue benadeel en sommige boere staar oesverliese van so hoog as 70% in die gesig
Amandels gaan tydens wintermaande in ’n rus tydperk in. Vanaf Augustus begin die bome bot.
Die tydperk vanaf die tweede week in Augusrus tot die einde van September is vir boere ’n kritieke tyd wanneer die bome bot en vrugte gevorm word.
Vanjaar het die Klein Karoo ekstreme weerpatrone ervaar, met sneeu wat in September op die Swartberge geval het.
Daar was ook uitermatig wind, droë kapok, koue en ryp.
Amandelbome kan koue temperature van sowat 4 grade Celsius hanteer, maar enige temperatuur onder dit, beskadiging die stempel van die bloeisel wat vries en dan gaan die bloeisel dood.
Daar is wel ’n rypstrategie wat toegepas kan word en die plante se toleransie vir koue met sowat 1,5 grade verlaag na 2,5 grade.
Die strategie behels die spuit van kalium op die blare elke 10 dae. Besproeiing kan ook onder by die stam van die amandelbome gebruik word wat die tempo van sapvloei verhoog en vriesing voorkom.
Die besproeiing word aangeskakel net voor die son opkom omdat dit gewoonlik die koudste tyd van die dag is.
Ongelukkig beïnvloed die koue ook die bestuiwing van bloeisels.
Bye word onproduktief en kan glad nie uit die korwe kom op hierdie koue dae nie.
Daar is waargeneem dat bye gevrek het as gevolg van die ryp.
Selfs na al hierdie voorsorgmaatreëls het sommige boere vanjaar tot 70% van hulle amandel-oes verloor.
Daar is wel ’n silver randjie aan dié donker wolk. Die bome in die Klein Karoo is relatief jonk, wat beteken dat daar nou aan volgende jaar se oes gebou kan word.
Bome wat ’n swak oes lewer groei vegatief. Hulle groei nou vinniger as die vorige jaar en is ook vanjaar mooier as enige van die vorige jare. (ANGELIQUE ERASMUS)