Die droogtehulp-organisasie, SA for Hope, reik eersdaags na sowat 80 boere en hul werkers in die Towerkop area uit, wat Barrydale, Ladismith en Riversdal insluit.
Alhoewel reën die afgelope tyd verligting aan boere in hierdie area gebring het, gaan dit nog ’n geruime tyd neem voordat die veld genoeg herstel het en hul eie voer verbou kan word.
Hierdie boere wat oorwegend met beeste, skape, bokke en hoenders boer, moet steeds voer aankoop.
Daar is ook ’n aantal perde wat aangehou word. SA for Hope gaan op 26 Oktober broodnodige voer, kruideniersware en vars water na die gemeenskap neem.
“Die kospakkies wat ons voorsien kos sowat R750 elk, wat maar ’n druppel in die emmer is,” vertel Pieter du Plessis wat reeds verskeie jare by SA for Hope betrokke is.
Hy en sy span het al talle uitreike in die Klein Karoo en omliggende areas gekoördineer.
Die skenkings word moontlik gemaak deur kontantdonasies en produkte wat deur besighede en weldoeners aan die organisasie geskenk word.
Benewens die plase gaan die groep ook besoek by Izak van Tonder-tehuis in Ladismith aflê waar varsprodukte, nie -bederfbare kos asook toiletware aan die inwoners geskenk word.
Die publiek kan deelneem aan ’n projek om be-derfpakkies in die vorm van boervrou-, ouma- en oupaboksies te maak. ’n Boksie se koste beloop sowat R300 en bestaan uit toiletware, lekkernye en selfs ’n boek of tydskrif.
Om betrokke te raak, kontak gerus vir Pieter du Plessis by 076 844 6435, of stuur ’n e-pos na pieterpdp@gmail.com.
Volg hulle ook op Facebook en sluit aan by hul WhatsApp-groep vir meer inligting oor die uitreik en toekomstige uitreike.
Droogtehulp benodig vir Towerkop
Die reën het beslis verligting na lang jare se droogte gebring. Ongelukkig het die veld nog nie genoeg herstel vir natuurlike weiding nie. Foto verskaf