

Nikki du Bois, oud-leerder van Langenhoven Gimnasium en seun van wyle Nico du Bois en Adamia du Bois, het vroeër vanjaar sy Springbokkleure in rubberbootrenvaarte verwerf.
Du Bois het in 2021 besluit om aan die Trans Agulhas renvaart deel te neem, ter nagedagtenis aan sy pa Nico, wat dit altyd graag self wou doen, maar in 2017 oorlede is.
Hy het sy eerste Trans Agulhas-renvaart gewen, en met elke renvaart daarna ’n podiumposisie verwerf, en kan hy sedertdien spog met ’n 3de plek in die Wêreldkampioenskappe in Maart, asook ’n 1ste plek by die onlangse Nasionale Kampioenskappe (King of the Waves), wat September in Mosselbaai plaasgevind het.
Du Bois is tans woonagtig in Gordonsbaai, waar hy besig is om sy eie boot te ontwerp en te bou. Hy beplan om die prototipe in Desember by die Trans Agulhas bekend te stel.
Hy beoog ook om rubberbootrenvaarte in Florida, Amerika bekend te stel.
Die renvaarte in Amerika word tans slegs op Jetski’s of in glasveselbote aangebied.
Enige persoon wat belangstel en graag wil betrokke raak by die sport kan gerus vir Du Bois kontak by 072 534 8448. (Lindi Brill)