Kollig op jag: Boer so saam met die natuur: ken jou vyand

Die tweede Boer saam met die Natuurwerkswinkel is op 14 April by Bella de Karoo aangebied. Die keer het dit gehandel oor die holistiese bestuur van roofdiere wat vir veeverliese verantwoordelik is.
Die werkswinkel is deur Chavoux Luyt van die Cape Leopard Trust en Jaco van Deventer van CapeNature aangebied. Nege persone het dit bygewoon.

Volgens Luyt word luiperds, rooikatte en rooijakkalse gewoonlik met veeverliese vereenselwig. As ’n boer weet watter een van die drie op sy plaas skade veroorsaak, kan hy spesifiek op daardie roofdier fokus. Dit is belangrik om te weet waar elkeen voorkom, hoe hulle aanteel, wat hulle gunsteling prooi is en hoe hulle jag en vreet. Jaco het tydens sy sessies meer oor die jag- en vreetmetodes gedeel.

Luiperds en rooikatte: Luiperds en rooikatte verkies ruwe bergagtige terrein of beboste gebiede. Hulle is alleenlopend en mannetjies het ’n groot loopgebied wat oorvleuel met die van tot drie wyfies. Hulle jag snags en waar wild beskikbaar is, maak skaap- of boklammers minder as 10% van hul dieet uit.

Jakkalse: Jakkalse verkies oper grasveld met boskasies waarin hulle kan skuil. Hulle vorm permanente teelpare wat ander jakkalse gedeeltelik uit hulle gebied weghou. Op plase waar jakkalse deur die mens gejag word, teel hulle vinniger aan en het groter werpsels en kleiner loopgebiede. Jakkalse is baie aanpasbaar en 80% van hul dieet bestaan uit plantmateriaal soos bessies, insekte en knaagdiere. In die lente wanneer die kleintjies gebore word, het hulle meer kos nodig en dis wanneer hulle lammers van pasgebore tot 30 dae oud vang. Anders as die katspesies, vreet jakkalse ook aas en dis nie altyd duidelik of hulle self die prooi gevang het nie. Luiperds en rooikatte op ’n plaas hou die ekostelsel in balans en kan die boer se bondgenoot teen jakkalse wees.

Bestuursmetodes: Verskillende dodelike- en nie-dodelike metodes bestaan om vee teen roofdiere te beskerm en veeverliese te beperk. Elke metode hou voordele in, het nadele en beperkings. Geen enkele metode werk op alle plase nie, want plase is uniek.

’n Boer moet self bepaal watter metode die beste werk, bekostigbaar en volhoubaar is. Waar die roofdiere heeltemal uitgeroei word, was daar die volgende jaar meer verliese, want waar ’n vakante loopgebied is, lok dit ander roofdiere. ’n Boer moet die verliese weens predasie meet aan die aantal lammers wat speenouderdom bereik, eerder as hoeveel roofdiere van kant gemaak word. Hoeveel die boer kan bekostig vir die bestuur van roofdierverliese, is grootliks afhanklik van hoe groot sy roofdierprobleem is,” sê Chavoux.

Besoek Cape Leopard Trust se webtuiste vir meer inligting oor die werkswinkels. (Deur Tisha Steyn) https://capeleopard.org.za/