Die jongste verslag van veeartse wat aan die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) behoort, lig die volgende veesiekteneigings uit.
Bloubosluise (Afrika- en Asiatiese bloubosluise) kan Afrika- en Asiatiese rooiwater, anaplasmose en knopvelsiekte oordra.
Vra ’n veearts om bloubosluise wat op jou plaas versamel is vir weerstandigheid te toets voor jy bosluiswerende middels aankoop.
Bontbosluise, wat hartwaterpara-siete oordra, veroorsaak bloed- armoede en skade aan die uier, ore en vel.
Dis veral belangrik om die uier te beskerm omdat bytplekke onherstelbare skade aan die spene en uier kan veroorsaak.
Asiatiese hartwater, een van die dodelikste siektes onder beeste, is besig om te versprei.
Vrektes kom voor wanneer vatbare diere verskuif word na gebiede waar bosluis-oordraagbare siektes voorkom.
Die diere moet op agt maande geënt word.
Uitbrekings van anaplasmose, waarvan steekvlieë die belangrikste draers is, is in sewe provinsies aangemeld.
Wanneer dieselfde naald tydens inenting vir meer as een dier gebruik word kan dit die siekte versprei.
Anaplasmose en rooiwater kan deur bloedmonsters onder ’n mikroskoop bevestig word. Inenting is belangrik om die siektes te voorkom.
Bloutong het in die Wes-Kaap uitgebreek.
Die gebrek aan geregistreerde entstof toe die ooie ingeënt moes word, het tot probleme gelei, maar ’n nuwe inaktiewe bloutong-entstof is geregistreer en sal hopelik binnekort beskikbaar wees.
Knopvelsiekte, wat deur steekvlieë, ander insekte en sommige bosluise oorgedra word, is in vyf provinsies aangemeld.
Die virus kan ook deur ’n spuitnaald wat vir meer as een dier gebruik word, versprei word.
Drie-dae-stywe-siekte is in twee provinsies aangemeld.
Lae konsepsiekoerse is aangemeld in die gebiede waar die siekte algemeen voorkom.
Slenkdalkoors kan die oorsaak van ’n vlaag aborsies wees.
Die siekte is ’n soönose wat beteken dit kan aan mense oorgedra word.
Vermy kontak met besmette materiaal soos bloed en nageboorte.
Dit is beter om ’n veearts te raadpleeg as jy enige van die siektes vermoed. (Deur Tisha Steyn)
– Bron: RPO
Jongste veesiekteneigings
