Boere uit Afrika het die afgelope week tweeledige boerbokkursus by Karoo Livestock Exports op Chandelier bygewoon.
Gerrie Ferreira, stigter van Karoo Livestock Exports, en sy mede-eienaar en skoonseun Ockie Nel het ’n praktiese kursus vir bokboere uit Afrika aangebied.
Dit is opgevolg deur ’n meer intensiewe Junior-kursus van die Boerboktelersvereniging van Suid-Afrika.
Die boere uit Tanzanië, Zimbabwe, Nigerië, Malawi, Oos-Europa en Suid-Afrika het die twee kursusse oor vier dae bygewoon.
Boere uit Ghana en Uganda kon nie betyds visums van die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake bekom nie, en om hulle tegemoet te kom sal ’n soortgelyke gekombineerde kursus oor drie dae vanaf 9 tot 11 Oktober vanjaar aangebied word.
Praktiese kursus
Basiese inligting is verskaf oor die hantering en versorging van die bokke.
Die boere is gewys hoe en het self geleentheid gekry om die bokke te vang sodat hulle gedoseer of geënt kan word.
Dr Adriaan Olivier, veearts van Oudtshoorn, het ’n post mortem gedoen sodat boere kan sien hoe dit gedoen word en waarna om op te let by ’n siek dier.
Die produksiesiklus vanaf paring, die voorbereiding van die ooie voor hulle lam en hoe pasgebore lammers hanteer moet word, is ook bespreek en geïllustreer.
Hulle is ook gewys hoe om kleinbokkies groot te maak tot op speenouderdom, en hoe om die bokke uit te soek vir teling.
Dr Fanus Cilliers van Camelus Voere op Oudtshoorn het ’n lesing gegee oor die waarde van die korrekte voeding op die verskillende stadiums in die bok se lewensiklus.
Altesaam 35 mense het die amptelike Junior-kursus van die Boerboktelersvereniging van Suid-Afrika bygewoon. Die kursus is deur Nickey Nell en Jan-Chris Marais, instrukteurs en beoordelaars van die vereniging aangebied. Na afloop van die kursus sal die deelnemers wat kwalifiseer die vereniging se diploma ontvang.
Die boere het Dinsdag ’n volstruisbroei-eenheid op die dorp besoek waar hulle ook kon sien hoe volstruis-kuikens uitgebroei en grootgemaak word.
Buiten bokke, skape en beeste, voer Gerrie ook volstruise na verskillende lande uit, en dis hoe Karoo Livestock Exports in 1996 begin het.
Vee word na 27 jaar na meer as 50 lande wêreldwyd uitgevoer. Die lande in Afrika sluit Angola, Benin, Kameroen, DRK, Egipte, Ghana, Ivoorkus, Kenia, Malawi, Mali, Mosambiek, Namibië, Niger, Nigerië, Kongo, Guinee, Senegal, Sierra Leone, Soedan, Tanzanië, Uganda en Zimbabwe in.
Ferreira en Liza werk hard daaraan om bande met hul kliënte te verstewig.
“Ek en Liza besoek Frankryk van 6 tot 22 September waar hulle Franssprekende kliënte uit Wes-Afrika gaan ontmoet om verdere uitvoere na hulle lande van herkoms te bespreek.
Kontak Gerrie Ferreira by 082 450 2110 of besoek Karoo Livestock Exports se webblad by www.karooexports.com. (Deur Tisha Steyn)
Afrika-boere leer meer oor bokke
Bo: Ockie Nel van Karoo Livestock Exports doen 'n praktiese kursus met boere uit Afrikalande. Foto: Verskaf