Prince Albert Leesfees (25-27 Aug 2023) bevestig dié dorp se kultuurfokus

Prins Albert het die afgelope jare bekendheid verwerf as dié kultuur-en-feesdorp van die Groot-Karoo.
Eerskomende naweek (25 tot 27 Augustus) se Leesfees is die tweede van drie groot kultuurfeeste wat vanjaar binne ses maande hier gehou word. Eers is die Journey to Jazz-fees met groot sukses aangebied en die Open Studios-kunsfees volg van 2 tot 5 November. Die jazzfees in Mei was ’n eerste op Prins Albert, maar die tweejaarlikse kunsfees is in 2017 deur die kunstenaar Joshua Miles op die dorp begin.

By al drie feeste is die Prins Albert Toerisme-organisasie en munisipaliteit as steunpilare betrokke, en word kosteloos deur kundige inwoners gereël. Vanjaar is die sterk benadering van die organiseerders dat dit tydens die Covid-19-inperkingstyd nie net uitvoerende kunstenaars was wat van ’n inkomste beroof is nie, maar ook die inwoners, vir wie kultuursake van groot belang is en wat in hierdie tyd geen toegang gehad het tot die visuele kunste, musiek en letterkunde nie.

Die Jazzfees word deur die hooforganiseerder, Ingrid Wolfaardt, beskryf as ’n gemeenskapsprojek waarin musiek die rol van gelykmaker speel. Die doelwit is boonop ’n ekonomiese inspuiting vir die dorp.

Die Open Studios-fees van visuele kuns vertoon weer die dorp en omgewing se kunstalent, waar die publiek toegang kry tot kunstenaars in hul ateljees.

Die Leesfees, wat sedert 2013 hier aangebied word (met die uitsondering van die Covid-19-inperkingstyd), lewer ’n bydrae tot ’n boekekultuur van die dorp, met inwoners wat aangemoedig word om met hul gunstelingskrywers kennis te maak, terwyl leerders van die dorp gesprekke kan bywoon oor die belangrikheid van lees – en selfs aan ’n skrywerswerkswinkel kan deelneem.

“Die Leesfees bied die hele gemeenskap blootstelling aan skrywers en boeke, en moedig terselfdertyd toeriste aan om van ver hierheen te reis; almal in die dorp vind baat hierby en die ekonomie kry ’n hupstoot. Kaartjiepryse is billik en ons moedig ’n saamkuiergeleentheid aan,” sê Reinie Smit, hoofbibliotekaris en lid van die Leesfeeskomitee.

Volgens die voorsitter, Vanessa Botha, maak verskeie groot borge die fees moontlik. Dit sluit in die ATKV, die Hiemstra Trust, die Dagbreek Trust, die Prins Albert-munisipaliteit en die Wes-Kaapse Departement Sport en Kultuursake. Verskeie gastehuise en die plaaslike hotel borg die Leesfeesdeelnemers se akkommodasie. “Die belangrikste is egter dat die dorp bekend moet staan as een wat fokus op ’n lees- en boekekultuur. ’n Herlewing van die kunste is nodig ná die pandemie-inperking.”

Die 2023-Leesfees sluit ’n hele paar Suid-Kaapse skrywers in, onder andere Eunice Visser van Klaarstroom (Die Kaapse Slawe: 1652-1838 – ’n kultuurhistoriese perspektief), Sidney Gilroy van Groot-Brakrivier (Vlam), Alexander Strachan van Hartenbos (1Recce), Chris Karsten van George (Op pad na Moormansgat), Frederik de Jager van Stilbaai (Ver in die wêreld) en Sally Andrew (The Milktart Murders) van Ladismith.

Ook op die program is Audrey Jantjies van Swellendam (As die katjiepiering blom), Bettina Wyngaard van Grabouw (Lokval), Julian Jansen van Somerset-Wes (Moord op Stellenbosch), Kobus Grobler van Bloubergstrand (Die middag reën roet), Lindie Stander van Langebaan (Agter my glimlag), asook die Prins Albertse digter Daniel Hugo (Vers & Kapittel II), die fotograaf Louis Botha (Karoo II), en twee kinderboekskrywers, Hanli Burger (Die reus van Groenberg) en Thana de Clerk (Juan en die bidsprinkaan).
Die première van die dokumentêr Boet se goet, oor die Karoo-kunstenaar Boet van der Hoven, deur Koos Roets, filmmaker, regisseur en draaiboekskrywer van Klaarstroom, is eerskomende Vrydagaand.

Voorts is die jeugboekskrywer Anzil Kulsen (Karatekas: dorings en drake) van die Noord-Kaap betrokke by die hoërskoolprogram, terwyl die Vriende van Afrikaans Vrydagmiddag ’n werksessie vir onderwysers, ouers en ander belangstellendes aanbied oor die belangrikheid van lees vir kinders.

Die sangeres Madeleine Barnard se program, The Book of Love, ’n toonsetting van gedigte, is Saterdagaand in die restaurant African Relish.

  • Vir meer inligting besoek gerus die Prince Albert Leesfees-Facebookblad.
  • Aanbiedingslokale: NG kerksaal en African Relish, Hoofstraat.
  • Kaartjies is by die plaaslike biblioteek te koop, of as jy van elders is, stuur gerus ’n e-pos sommer nou al aan reiniesmit@gmail.com met al jou besonderhede en ook watter geleenthede jy wil bywoon. Verskaf jou naam, telefoonnommer en totale bedrag verskuldig.

Haal en betaal (kontant of kaart) by die biblioteek, Kerkstraat, tot Vrydag 25 Augustus, daarna by die NG Kerksaal of skakel 023 541 1036. (Deur Marlene Malan)