77 jong broeivolstruise van Navorsingsplaas opgeveil

‘Ek het R4000, R4000, ek het R4000, heit, ek het R4250...’ PA Geldenhuys, afslaer van Klein Karoo Agri Veilings & Veebemarking, in aksie tydens Dinsdag se produksieveiling wat in opdrag van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se direktoraat Veekundige Wetenskappe by die Oudts­hoorn Navorsingsplaas (Proefplaas) plaasgevind het. Regs van hom sit Gert Laubscher, bemarker van Klein Karoo Agri Veilings & Veebemarking. Foto: Schalk le Roux

Dr Anel Engelbrecht, navorser by die Oudtshoorn Navorsingsplaas, wys Dinsdag vir dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, van die volstruise wat by die Navorsingsplaas se 17de produksieveiling later die dag opgeveil is. Meyer het die veiling amptelik geopen.

Van die volstruisprodusente en ander belangstellendes by die Navorsingsplaas se 17de produksieveiling wat op die plaas gehou is.

ALTESAME 77 volstruise is vir die totale bedrag van R352 500 opgeveil by die 17de produksieveiling van die Oudtshoorn Navorsingsplaas.

Die veiling, wat in opdrag van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se direktoraat veekundige wetenskappe plaasgevind het, is deur dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, geopen.

Die veiling het aan volstruisprodusente die geleentheid gebied om die genetiese gehalte van hul volstrui-se te verbeter aangesien daar volledige rekords gehou is van die produksie-geskiedenis van die volstruise wat opgeveil is.

Die Navorsingsplaas hou rekords van onder meer die gewig van die volstruise, die getal haarfollikels (hoe minder hoe beter) en die reproduksie van elke volstruis.

Te danke aan die noukeurige rekordhouding van die Navorsingsplaas is daar oor die jare goeie genetiese vordering met die navorsingskudde gemaak. Seleksie word reeds sedert die 1990’s gedoen op grond van teeltwaardes vir reproduksie, gewigstoename en meer onlangs ook die voorkoms van haarfollikels.

Volgens dr Anel Engelbrecht, navorser op die plaas, bied die vei­ling aan kopers die geleentheid om hierdie teeltmateriaal aan te skaf om bestaande broeitroppe te verbeter. Tesame met goeie bestuur sal goeie teeltmateriaal bydra tot ’n laer produksiekoste en beter gehalte vir die produsent.

Die volstruise wat opgeveil het, is kuikens van die 2019-seisoen. By die Navorsings­plaas word sulke jong volstruise reeds langer as 20 jaar met groot sukses in die teeltkudde gebruik. Volgens Engelbrecht is sy tevrede met die pryse wat die volstruise gehaal het.

PA Geldenhuys, afslaer van Klein Karoo Agri Veilings & Veebemarking wat die veiling behartig het, sê in die lig van die huidige moeilike ekonomiese omstandighede is hy tevrede met die pryse wat behaal is.

Hy sê ook al die volstruise is verkoop. Die gemiddelde prys per volstruis was R4 578 en die totale omset van die veiling was R352 500.

Die hoogste prys per volstruis was R7 250. Twee volstruiswyfes het dié prys gehaal.