• Open Studios (5 – 8 April) in Prins Albert
Deur Marlene Malan
LOUISA PUNT-FOUCHÉ van Prins Albert se skilderye en digkuns is ’n toonbeeld van haar gebondenheid aan die aarde – ook van haar beskouing dat dié aarde ’n makro-organisme is wat ’n tuiste bied vir ’n hele netwerk van ineengeskakelde lewe.
So het die filosoof prof Bertie Olivier van die Universiteit van die Vrystaat gesê by die opening van die Kredouw Kunsgalery op dié olyflandgoed sowat 25 km buite Prins Albert, digby die Kredouw-pas. Dit is die eiendom van Punt-Fouché en haar man, dr Ian Punt.
By die geleentheid is Punt-Fouché se digbundel, Ek skryf met bloed en bene, ook bekendgestel.
Dit is haar vyfde boek. Haar Rarest Riverine Rabbit of the Karoo/Skaarser-as-skaarste Oewerkonyn van die Karoo word beskou as een van die topkinderboeke wat verlede jaar in Suid-Afrika verskyn het.
Die egpaar het ’n paar maande gelede begin om een van die gastehuise op die landgoed in ’n kunsgalery te omskep, nie net vir
Punt-Fouché se eie werke nie, maar ook vir ander beeldende kunstenaars. Die lokaal leen dit ook uitstekend tot, onder meer, boekbekendstellings en boekbesprekings, het sy aan Die Hoorn gesê. “Niks sal my blyer maak as dat hierdie ruimte besoek en gebruik word nie.”
Die Kredouw-kunsgalery is van vandag (Donderdag 5 Julie) tot Sondag op die kunsroete van die vierdaglange Open Studios-tuistentoonstellings waaraan 25 Prins Albertse kunstenaars en fotograwe deelneem.
Punt-Fouché se uitgewer, Christel Foord, het gesê Punt-Fouché “was passievol oor haar digbundel – die inhoud, die uitleg en die hele produksieproses. Haar werk vertel die verhaal van die uitwerking van die mens op die natuur.”
Dat sy vrou op byna 60 jaar haar eerste digbundel publiseer en haar eie kunsgalery open, is die afronding van ’n skryf- en skilderproses wat as kind begin het, het dr Ian Punt gesê.
“Sy is eerlik, het ingegriteit en vra al die basiese vrae oor die mens se bestaan.”
Punt-Fouché, wat ’n doktorsgraad in kliniese sielkunde het, het voorheen in Port Elizabeth gepraktiseer. Die Punts het sowat vyf jaar gelede hul professionele loopbane laat vaar, na die Groot-Karoo verhuis en met olywe begin boer.