Hip-hop teen misdaad

Die lede van die Prophetstyle Production & Unlimited Crew van Oudtshoorn is van links Duayne Stoffels, Nathan Lewis, Schapiro Michaels (leier), Lizel Sederstroom en Tarence Kammies.                                                                                                                      Foto verskaf

Die lede van die Prophetstyle Production & Unlimited Crew van Oudtshoorn is van links Duayne Stoffels, Nathan Lewis, Schapiro Michaels (leier), Lizel Sederstroom en Tarence Kammies. Foto verskaf

Deur Wyndham Ewerts
’N HIP-HOP-GROEP van Oudtshoorn, Prophetstyle Production & Unlimited Crew (PPUC), het besluit om hul stemme dik te maak teen misdaad en Saterdag ’n hip-hop-jeugontwikkelingskamp in Plettenbergbaai by te woon. Die tema vir die kamp was Hip-Hop against Crime, met bekendes soos DJ Ramone van die befaamde Prophets Of Da City-rapgroep, Oudtshoorn se eie Danny B, asook die TV-aanbieder MelRock wat die saamtrek bygewoon het.

Die doel van hierdie kamp was om eenheid teen misdaad in hip-hop-geledere te versterk.

“Misdaad is ’n erge euwel wat ons almal raak en daarom het ons groep besluit om betrokke te raak,” sê Shapiro Michaels, leier van PPUC.

“Hip-hop se wortels is diep gesetel in oorwegend agtergeblewe gemeenskappe waar hierdie ­elemente hul oorsprong het, en juis daarom het ons broeder­skap gevoel dat ons ’n wesenlike verskil kan maak.”

Verskeie groepe uit Plettenbergbaai en Knysna het deur digkuns, motiveringspraatjies en ener­gieke danspassies bydraes gelewer.

“PPUC beoog om ’n soortgelyke jeugkamp in die nabye toekoms in Oudtshoorn aan te bied om die geveg teen misdaad voort te sit,” sê Michaels.