Kultuuraand ’n groot sukses

James Benghee, voormalige wenner van SA Got Talent, Saterdagaand op Oudtshoorn. Foto: Garnett Wicomb

James Benghee, voormalige wenner van SA Got Talent, Saterdagaand op Oudtshoorn. Foto: Garnett Wicomb

Deur Wyndham Ewerts
DIE United Congregational Church (UCC) se Kultuuraand Saterdagaand om die kerk se 180ste bestaansjaar te vier, was baie suksesvol, met talle mense wat gevra het dat dit jaarliks aangebied moet word.

Die aand is afgeskop met ’n vingerete en daarna het die konsert in die volgepakte ouditorium in die Bur­gersentrum begin.

Die UCC-kerkkoor het die aand sensasioneel afgeskop en die gehoor dadelik in ’n feestelike stemming geplaas.

Talentvolle Oudtshoorniete soos die pianis John Theodore, die bekende Poem Mooney, Andy Fortuin en die Kambro Diggers het ook groot vermaak verskaf.

Maar die vertoning van die aand was sonder twyfel dié van James Benghee and Friends van SA Got Talent-faam. Menigte gehoorlede was dit agterna eens dat dit gevoel het asof hulle in ’n operahuis in Italië was! Gunstelingliedjies soos “O’ sole mio” van Luciano Pavarotti en “All I need” van Josh Groban het die gehoor in vervoering gehad.

Ander genotvolle vertonings is gelewer deur Die Nuwe Apostoliese Kerk (fluit), Sonia Visagie (solo-sang), Frank Williams (saksofoon) en baldansers.

• Die koördineerder van die aand, Henry Booysen, het namens die UCC die breê gemeenskap bedank vir die ondersteuning van die geleentheid.

“Daar sal beslis nog funksies van hierdie hoë gehalte in die toekoms gehou word ter vieringe van die kerk se 180ste verjaardag aanstaande jaar,” het hy gesê.