Musiek vir Diere samel meer as R8 000 vir sterilisasies in!

Oudtshoorniete het hul harte vir Oudtshoorn se diere oopgemaak met R8 255 wat Saterdag met die Musiek vir Diere-konsert in die NG Moederkerk ingesamel is. Hier oorhandig Hestia Burger (middel, met Pieterselie op die heup), lid van ’n groep dierevriende wat die konsert gereël het, die geld aan Makayla Bacon (links) en Vanessa Engelbrecht as ’n bydrae tot ’n volgende Spayathon - ’n massa-sterilisasie van honde en katte - op Oudtshoorn.                Foto: Liesel le Roux

Oudtshoorniete het hul harte vir Oudtshoorn se diere oopgemaak met R8 255 wat Saterdag met die Musiek vir Diere-konsert in die NG Moederkerk ingesamel is. Hier oorhandig Hestia Burger (middel, met Pieterselie op die heup), lid van ’n groep dierevriende wat die konsert gereël het, die geld aan Makayla Bacon (links) en Vanessa Engelbrecht as ’n bydrae tot ’n volgende Spayathon – ’n massa-sterilisasie van honde en katte – op Oudtshoorn. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
MET die sterilisasie van 100 honde, word die geboorte van minstens 600 tot 800 hondjies voorkom, sê Vanessa Engelbrecht, een van die Oudtshoor­niete wat haar tans saam met ander dierewelsynsorganisasies daarvoor beywer om ’n tweede spayathon vir 2017 op Oudtshoorn aan te bied.

So ’n tweede spayathon – ’n massa-sterilisasie van honde en katte – het Saterdag ’n groot hupstoot gekry met die Musiek vir Diere-konsert wat in die NG Moederkerk aangebied is en waarmee R8 255 ingesamel is – deur kaartjieverkope en donasies by die konsert. Die konsert is ’n projek van ’n groep dierevriende van Oudtshoorn wat sedert verlede jaar verskeie suksesvolle projekte aangebied het waarvan die opbrengs vir dierewelsyn gegaan het. Al die kunstenaars wat Saterdag opgetree het by die konsert, se optrede was gratis.

Volgens Hestia Burger wat die leiding geneem het om die dag te orga­niseer, was een van die hoogtepunte van die konsert toe die kunstenaars en die gehoor teen die einde saam die lied We all stand together gesing het. Sy sê hulle is bemoedig deur die geesdrif van mense en dankbaar dat lede van die gehoor ook na die tyd donasies vir die spayathon en dierewelsyn in ’n blikkie gegooi het. Dit kos R40 000 om so ’n spayathon aan te bied.

Die volgende fondsinsamelings­projek van die dierevriende sal in Oktober plaasvind wanneer talle in­- teressante tuine op ’n Saterdag besoek kan word. Die datum en meer besonderhede van dié Tuine vir Diere-projek sal binnekort bekend gemaak word.