De Krans se Rosé maak sy stem dik…in goud!

De Krans op Calitzdorp se vrugteboorde was die naweek ’n prentjie vol bloeisels.                    Foto: Liesel le Roux

De Krans op Calitzdorp se vrugteboorde was die naweek ’n prentjie vol bloeisels. Foto: Liesel le Roux

NOU word daar ook bobaas-rosé in die Kein Karoo gemaak!

Die De Krans Pinotage Rosé 2017 het sy staal getoon op die jongste Rosé Rocks!-kompetisie en met ’n goue medalje weggestap.

Rosé Rocks! is Suid-Afrika se eerste kompetisie vir rosé-wyne.

Benewens chenin blanc is rosé sekerlik die wynstyl wat die tonge tans aan die gons het! Die wyne het gesofistikeerd geraak en ontwikkel in ’n styl wat onafhanklik is en op sy eie voete staan, en deesdae gewild is by mans en vroue.

De Krans se Pinotage Rosé is ’n delikate wyn, maar met sterk geure. Soos ware pioniers het die De Krans-wynmaakspan eers ’n rosé van tinta barocca gemaak en toe van cabernet sauvignon. Uiteindelik is gevind dat ’n rosé van pinotage nie net die voorkeure van verbruikers beter weerspieël nie, maar is dit ook ’n huldeblyk aan ’n eg Suid-Afrikaanse kultivar.