Ervaar meer as 25 kunstenaars en fotograwe se werk

Een van die kunstenaars wie se werke by die kunsfees, Prince Albert Open Studios, volgende naweek te sien sal wees, is die bekende kunstenaar Cobus van Bosch, hier in sy ateljee. Foto: Barry Lamprecht
Deur Marlene Malan
MEER as 25 kunstenaars en fotograwe stal volgende week hul werk uit op die gewilde kunsfees Prince Albert Open Studios.
Dié geleentheid, van 5 tot 8 Julie, is ’n tuisuitstalling van kunswerke. Alle besoekpunte in en om die dorp is op ’n kunsroetekaart aangebring – ook die kunsgalery Prince Albert Gallery en die teater The Showroom waar die kunsfilm Tree of Life vertoon word. Die eerste Open Studios, in Desember verlede jaar, was so suksesvol dat die kunstenaars én dorp dit nou twee keer per jaar wil aanbied.
Die organiseerder, die houtdrukkunstenaar Joshua Miles, het aan Die Hoorn gesê die publiek kan vier dae lank beeldende kunstenaars en fotograwe in hul ateljees besoek, “hul persoonlike skeppende omgewing, hul sensitiefste ruimte”.
Van die ander deelnemende kunstenaars is Cobus van Bosch, Sally Arnold, Clive Heyne, Sheila Coutouvidis, Collette Hurt, Janet Dirksen, Kevin de Klerk, Isak Moos, Diane Johnson-Ackerman, Heleen de Haas, Di van der Riet-Steyn, Louisa Punt-Fouché, Christelle Smit, Richard en Pete Reinders, Kashief Booley en Sue Savage. Die fotograwe Sam Reinders, Louis Botha, Gita Claassen en Salvelio Meyer stal ook húl werk uit.
Volgens Miles is die mediums van die beeldende kunstenaars olieverf, beelhouwerk, etse, linodrukke, juweliersware, fotografie, kalligrafie, gemengde media, weefwerk, keramiek, waterverf en metaalwerk.
Miles sê die idee vir die oop kunsateljees in dié Karoo-dorp “het begin in Baardskeerdersbos waar ek en my gesin dertien jaar gewoon het, voordat ons verlede jaar Prins Albert toe getrek het om ons seun hier in die skool Albert College te sit.
“Die Baardskeerdersbos-huiseienaarsvereniging het gevoel die dorp het ’n kunsfees nodig, maar die kunstenaars het ’n kunsroete verkies. Ons wou ware kunsliefhebbers lok. Op so ’n naweek stap daar ’n paar honderd mense deur kunstenaars se huise.
“Ons eerste Open Studios op Prins Albert was einde verlede jaar. Dis ’n dorp vol wonderlike kunstenaars. Kunsliefhebbers kan tussen ateljees loop en ry.
“Die Groot Karoo is ’n omgewing met ’n spesiale energie. Aan die een kant gee dit jou ’n gevoel van vryheid. Dis ’n plek met die ongelooflikste lig, daar is die manjifieke Swartberg wat die verhoogdekor vorm. Uit die Swartberg vloei ’n water-lewensaar. Dis ook ’n plek met wonderlike argitektuur.”
Volgens Johnson-Ackerman is een van haar groot inspirasies die eenvoudige lyne van die dorp en landskap, en “ ’n atmosfeer geskep deur donkerte en lig en skaduwees”.
Volgens De Haas is haar ateljee en uitstalruimte op die plaas Aswater, 20 km buite die dorp, “ ’n plaasgrootte-doek” met landskapskuns en letterwerk op klippe en keramiek en in binnenshuise versiering, met kalligrafie op handgemaakte papier en ’n letter-labirint in ’n droë dam.
“Ateljees is seker een van die sensitiefste aspekte van kunstenaars se lewe,” sê Miles.
“ ’n Ateljee help die publiek om ’n kunstenaar se werk beter te verstaan en hulle kry ’n baie beter idee van ons wêreld – die siel en tegniek daarvan. Open Studios dra by tot die kunsomgewing van Prins Albert en die Karoo. Dis ’n dorp met ’n sterk sense of place – ’n unieke plek, een wat anders is as die meeste ander plekke.”
• Navrae: princealbertopenstudios@gmail.com en www.princealbersopenstudios.art