R8,5 milj-biblioteek vir Rosevalley

’N OPENBARE deelnameproses ten opsigte van ’n nuwe openbare biblioteek wat in Rosevalley, Oudts­hoorn gebou gaan word, het met ’n inwo­nervergadering op Donderdag, 21 Junie, afgeskop. Die Wes-Kaapse Bib­lioteekdienste het R8,5 miljoen aan die plaaslike munisipaliteit bewillig vir die bou en onderhoud van dié biblioteek.

Die befondsing mag slegs vir hierdie projek gebruik word en sal die inwoners van Rosevalley, Rosebank, Neppon en Toekomsrus bedien.

Die projek is luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit wat gister uitgereik is, die inisiatief van die Oudtshoorn-raad en die provinsiale rege­ring. Dit sal na voltooiing werksgeleenthede bied vir ’n senior biblioteekassistent, twee biblioteekassistente en een biblioteekhulp.

Volgens die burgemeester van die Groter Oudts­hoorn, Colan Sylvester, sal die sukses van die biblioteek afhanklik wees van die publiek se onder­steuning van die projek.

“Die biblioteek is die eiendom van die gemeenskap. U moet eienaarskap aanvaar en die biblioteek sien as ’n belegging in ons kinders om hulle te bevoordeel om hul geletterheidsvlakke te verhoog,” het Sylvester by die vergadering gesê.
Thomas Matthee, direkteur gemeenskapsdiens­te, het gesê die gemeenskap se samewerking is noodsaaklik vir die sukses van die projek.

Die munisipaliteit het inwoners genooi om ’n belangrike volgende vergadering by te woon waar drie tot vyf gemeenskapslede gekies moet word om deel lede te word van die projekkomitee. Die datum van die vergadering sal later bekend gemaak word.