Van die handgemaakte volstruisleer-stewels op die rakke van die Klein Karoo Ostrich Emporium. Foto’s: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DIE Country-klanke van die bekende Allan Ladd het sowat 70 gaste verlede Woensdagaand (20 Junie) by die Klein Karoo Ostrich Emporium op Oudtshoorn vermaak by die bekendstelling van die nuwe Anderson Bean Cowboy-stewels van volstruisleer.
Die nuwe stewels – elkeen handgemaak en ’n kunswerk op sy eie – word eksklusief vir die Emporium gemaak deur die Anderson Bean Boot Company wat in Texas, Amerika geleë is.
“Die stewels is ongelooflik duursaam, maar ook gemaklik en trek ook maklik aan en uit,” sê Arno Albertyn, uitvoerende direkteur van Klein Karoo International (KKI).
Ryan Vaughan, bestuurder van Anderson Bean Boot Company in die VSA, het die geleentheid bygewoon en met groot lof van die personeel van KKI gepraat.
Hy het hulle beskryf as “hard working, God fearing, good people with integrity.”
Volgens Vaughan is die maatskappy trots daarop dat hulle die beste duursame Cowboy-stewels van volstruisleer vervaardig, en dat dit boonop stewels is wat gedra kan word deur mense terwyl hulle werk.

By die bekendstelling was voor van links Ryan Vaughan (bestuurder Anderson Bean) en Eric Larson (eienaar van die Larson Leather Company, VSA). Agter van links is Johannes Delport (voorsitter KKI), Jodie Vaughan, Johan Schoeman (uitvoerende hoof Klein Karoo Eiendoms Beperk), Yolandi Horn (bestuurder Emporium), Sheila Larson, Arno Albertyn (uitvoerende direkteur KKI) en Sarie de Wet (rekeningebestuurder KKI).