Snorseun Schalk vanaand in Burgersentrum

Schalk Bezuidenhout. Foto verskaf

SCHALK BEZUIDENHOUT, die krulkopkomediant met sy kenmerkende truitjies en skerp tong, is vanaand (21 Maart) om 18:30 te sien in sy eenmanvertoning, Snorseun, in die Absa Burgersentrum.
Schalk doen slegs een vertoning van Snorseun by die fees. Kom skop dus jou KKNK se eerste aand af met skaterlag. Feesgangers kan uitsien na die snorseun op sy beste, met vlymskerp waarnemings en sosiale kommentaar oor die lewe en die land waarin ons leef.

Met vertellings oor alles van wildritte en legkaartbou tot ’n trick in die fliek, sal Schalk jou laat skater. Snorseun sal baie reaksies by jou uitlok, waarvan lag sommer lag-lag die grootste is.

Sedert hierdie boorling van Kemptonpark in 2015 (en weer in 2017) in Trevor Noah se voorprogram opgetree en ’n solo-vertoning op Comedy Central uitgesaai is, het hy vinnig ’n huishoudelike naam geraak. Hy het ook reeds twee Comics Choice-toekennings en ’n gesogte SAFTA ingepalm.

Schalk is deesdae ’n bekende gesig op televisie, veral in die rol van geliefde Danny in die reeks Hotel. Schalk het verlede jaar kykers laat regop sit en skaterlag as anker van die satiriese nuusprogram Die Ware Naarheid, ook op kykNET.

Die KKNK lê vir Schalk na aan die hart. Hy het in 2015 sy heel eerste Afrikaanse eenmanvertoning, Schalk Bezuidenhout Lewendig, hier opgevoer. Hy het tydens dieselfde fees die gesogte Slurpie-Kanna vir Beste opkomende kunstenaar gewen.

Sedertdien was Schalk nog elke jaar weer by die KKNK op die verhoog, met sy eenmanvertoning Voksbesit, 3-in-1 met Casper, Schalk en Hannes en ook optredes by die Netwerk24 Feeskafee se Stand-up Komedie.

Hy sien baie uit daarna om vir die eerste keer sy eenmanvertoning in die Absa Burgersentrum aan te bied.

“Dis my grootste show nog ooit in Oudtshoorn en die laaste keer wat jy my Afrikaanse stand-up show Snorseun sal kan sien!

“So maak soos ’n oom met ’n snor en kom koekeloer,” sê Schalk.

• Kaartjies vir Snorseun kos R125 by Computicket of R140 by die deur. Geen o/14.