Vrou in hof vir moord

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n vrou van Volmoed wat tereg staan op ’n klagte van moord op haar saamleefmaat, is na die getuienis van twee van hul kinders deur middel van ’n tussenganger in die streekhof op

Oudtshoorn vir verdere verhoor tot Juniemaand uitgestel.
Die tenger geboude Susan Plaatjies (45) word daarvan aangekla dat sy die pa van hul drie kinders, Kiewiet Plaatjies (45), die aand van 2 Mei 2018 met ’n mes in die nek gesteek het. Hy is op die toneel dood verklaar. Sy pleit onskuldig omdat sy nie bedoel het om hom dood te maak nie.

In ’n pleitverduideliking wat deur haar regshulpprokureur, Eugene Roos, aan die hof voorgelees is, sê Plaatjies dat hulle die betrokke dag, nadat hulle hul maandelikse toelae ontvang het, ’n vyf­liter-kan Bonniestein gekoop en saam gedrink het.

Die oorledene het haar van ontrouheid beskuldig waarna ’n stryery ontstaan het,
Hy het glo gesê dat hy nie die pa van hul drie kinders is nie en haar met ’n vurk gejaag en met ’n klip gegooi. Hy was volgens haar baie aggressief en toe sy ’n mes in die hande kry, het sy hom daarmee gesteek.

“Ek het nie eers geweet dat ek hom raakgesteek het nie en wou hom net weghou van my,” lui haar verklaring. Sy was steeds baie dronk omdat sy baie gedrink het en het die nag tussen bosse naby haar huis geslaap.

Die saak sal op 6 Junie voortgesit word. Plaatjies is uit op waarskuwing.