Karwag met ’n glimlag!

Oudtshoorn se Karwag van die Maand , die vriendelike Morné van der Ross, op sy pos met sy hoed vol vere.  Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
HY is die vriendelike gesig in Hoog­straat, dié man wat al vir meer as 15 jaar inwoners en besoekers aan Oudtshoorn help om parkeerplek te kry.

Dit sal vir niemand ’n verrassing wees nie dat Morné van der Ross pas deur die Oudtshoorn Besigheids­kamer aangewys is as Oudtshoorn se Karwag van die Maand, ’n eerbewys wat hy deur en deur verdien.

Van der Ross ry nog al die jare lank elke dag met ’n taxi van Dysselsdorp waar hy woon, na Oudts-hoorn en terug om ses dae van die week as karwag te kom werk.

Inwoners het hom leer ken waar hy voor die ou Wimpy in Hoogstraat langs FNB begin werk het. Toe die Wimpy egter jare gelede na die Edgars-sentrum hoër op in die straat getrek het, het hy saam getrek, en staan die publiek tans op die parkeerterrein by die Wimpy by.

Van der Ross is in Dysseldorp gebore en het daar grootgeword.

Hy is die enkelouer van twee kinders, Asleyano Sampson (12) en Angeline van der Ross (5), na die dood van sy vrou, Annalise, in Desember verlede jaar aan lewerkanker, kort voordat hulle sewe jaar getroud sou wees.

Sy oggendroetine behels opstaan om 06:00 om sy kinders wat skoolgaan by Dysselsdorp Primêr gereed te kry vir die dag en hulle skool toe te neem.

Van daar ry hy ’n minibus-taxi Oudtshoorn toe sodat hy net voor 08:00 op sy pos kan wees.
Sy vervoer na en vanaf Oudtshoorn jaag hom daagliks sowat R40 uit die sak.

Hy sê op ’n goeie dag kan hy darem genoeg in sy sak steek om kruide­niersware mee te kan koop om hom en sy kinders te onderhou.

“My gunstelingdag om te werk is Saterdag, want dan kom baie mense na die eetplek toe, en maak ek darem ’n ietsie ekstra,” sê hy met ’n skaam glimlag.

• Na ons gesprek hou ’n inwoner in sy motor langs my stil en beduie na Van der Ross: “Daai man is ’n baie goeie man,” sê hy.