Magdaleen Titus gisteroggend in die beskuldigdebank. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van die vier verdagtes in die Preston Titus-moordsaak in die rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn is gister skielik, om verskeie redes, sonder verdere vordering tot Meimaand uitgestel.
Die saak het egter ’n wrang smaak in die mond gekry toe ’n bekgeveg tussen familie van een van die beskuldigdes, Magdaleen (Maggie) Titus, en hofgangers, meestal ondersteuners van die vermoorde soldaat se familie, losgebars het.
Dit was alles oor sitplek in die voorste bank in die hof.
Die susters van Magdaleen Titus wat elke dag in die voorste bank gesit het met die familie van Preston in die tweede bank, het laat opgedaag en was hul sitplek kwyt. Harde woorde het tussen die twee kampe geval terwyl die familielede van Preston eenvoudig bly sit het sonder om deel te wees van die woordestryd.
Pogings van die hofordonnans en ’n sekuriteitsbeampte om orde te handhaaf het op dowe ore geval en dit het geruime tyd geduur voordat almal tot bedaring gekom het.
Dié voorval het plaasgevind terwyl die staatsaanklaer en verdagtes se regsverteenwoordigers in kamers met regter Nolwazi Boqwana beraadslaag het. Met die aanvang van hofverrigtinge het die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver, die hof om uitstel gevra.
Eerstens omdat die landdroskantoor se kragopwekker Dinsdagmiddag die gees gegee het en daar dus nie tydens beurtkrag met die saak voortgegaan sou kon word nie.
Tweedens het hy die hof om uitstel gevra omdat dit sin sal maak om eers in Mei met die getuienis van die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, voort te gaan, met die kruisondervraging dan daarna.
Regter Boqwana het hierna om verskoning gevra vir die situasie waarin die hof hom bevind.
“Almal wil sien dat die saak afgehandel word, maar dit is nie moontlik om vandag voort te gaan nie as gevolg van die kragopwekker wat stukkend is en beurtkrag,” het die regter gesê.
Sy het ook gemeld dat nog ’n beskuldigde, Justice Mooi, se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, met ’n erge seer keel sukkel.
“Die saak is ’n prioriteit vir die hof om af te handel,” het sy afgesluit en die saak vir verdere getuienis in die huidige verhoor binne ’n verhoor vir 13 Mei tot 14 Junie uitgestel. Titus, Natashia Stuurman en Masithembe (MJ) January se borgtog is verleng terwyl Mooi in aanhouding bly.
• Die bekgeveg tussen die familie van Magdaleen Titus en ondersteuners van haar vermoorde man, Preston Titus, se familie het buite die hofgebou voortgegaan met ’n familielid van Titus wat ook die moeder van Sixabiso Klip met ’n klap gedreig het. Klip, ’n voormalige motorbestuurder van Magdaleen Titus, is reeds skuldig bevind vir sy aandeel in die moord op Preston. Hy het ’n pleitooreenkoms met die staat gesluit en dien tans 15 jaar gevagenisstraf uit.
“Hulle is lelik,” het Klip se ma agterna gesê. “Hulle weet die skuldiges gaan tronk toe”.
Hofgangers snak na asem oor verklaring van January dat Magdaleen aan hom gesê het sy wou vir Preston laat doodmaak.
Daar was ook Dinsdag drama in die hof.
Hofgangers het na hul asems gesnak toe die staatsaanklaer, Van der Vijver, ’n verklaring van January voorgelees het waarin hy vertel van ’n geleentheid in November 2017 in ’n kroeg in Port Elizabeth waar Magdaleen hom meegedeel het dat sy iemand gekry het om haar man dood te maak.
Die verklaring is sonder enige teenstand ingehandig as bewysstuk.
Volgens January was hy in Oktober 2017 saam met ene Elvis Galeboe vir ’n reeks kerkdienste op Oudtshoorn waar hy Magdaleen ontmoet het. Hulle het vriende geword en was weer later saam tydens ’n kerkdiens in Port Elizabeth.
Hulle is na ’n kroeg waar Justice Mooi die bestuurder was en hulle ’n paar drankies saam geniet het. Hy moes later na buite omdat Magdaleen, Mooi en Klip, Maggie se voormalige motorbestuurder, ’n vergadering wou hou.
Hy wou van haar weet waarom sy nou met ’n ander man sit en waaroor die vergadering gegaan het. Magdaleen het gesê dat dit oor politiek gaan en bygevoeg dat sy iemand gekry het om haar man te vermoor. Op ’n vraag waarom sy dit wou doen, het sy geantwoord dat hy (haar man) haar wil doodmaak en sy hom moet doodmaak voordat hy dit met haar doen.
January sê in sy verklaring dat hy van haar wou weet watter voordeel sy daaruit sou kry waarop sy geantwoord het: “Dat ek my lewe terug kan kry.”
Magdaleen het hom ’n paar dae later gevra om geld in ’n vermeende moordenaar se rekening oor te plaas en bygevoeg dat die manne met gewere kom.
Hy is ’n paar dae later na Beaufort-Wes waar Magdaleen hom gebel het en gesê het dat sy hom lief het.
Sy was kwaad omdat hy nie die geld wou oorplaas nie en het gevra of sy hom kon vertrou.
January sê voorts in sy verklaring dat hy van Elvis Galeboe verneem het dat Preston Titus vermoor is. Hy was toe terug op Oudtshoorn en by Stuurman se huis. Hy vertel ook hoedat hy en Stuurman saam met
Klip na die Titus-woning gegaan en daar gebid het.
Titus het Klip toe gevra om sy selfoonoproepe uit te vee. Op ’n vraag waar sy ten tye van die moord was, het Magdaleen hom meegedeel dat sy geslaap het en haar selfoon ook gesteel is.
Volgens die verklaring het Mooi hom na die moord gebel en gevra “om stil te bly”. Hy is uit vrees terug na Port Elizabeth.
Magdaleen het hom gebel en gewaarsku om weg te bly van die polisie want anders sal “haar mense” met hom afreken.
In ’n verhoor binne die verhoor wat hierna begin het, ontken Mooi volgens sy regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, dat die verklaring wat hy na sy inhegtenisneming afgelê het, vrywilliglik en sonder dwang was. Hy ontken ook dat die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux sy regte aan hom voorgehou het.
A/o William Bennett Swarts het getuig dat hy Mooi op 13 Desember 2017 twee keer na die Oudtshoorn Hospitaal geneem het vir ’n ondersoek ten opsigte van enige beserings. Mooi het hom daarna bedank vir goeie behandeling wat hy ontvang het.
Volgens Sers Vuyokazi Ludonga, wat saam met kapt Deon Bouwer en ao Le Roux gegaan het om as tolk op te tree tydens die inhegtenisneming van Mooi op 12 Desember 2017 in ’n MacDonalds, het Le Roux Mooi se regte aan hom voorgehou, en vertel Mooi leuens as hy dit ontken.
Mooi is die enigste van die vier verdagtes in aanhouding. Regter Boqwana het die twee vroue en January se borg en borgvoorwaardes verleng totdat die saak in Mei weer voortgaan.