Oudtshoorniete raak betrokke by #trashtag en takel Grobbelaars

Sowat 20 vrywilligers het gisteroggend op Oudtshoorn ingespring om die Grobbelaarsrivier tussen St John- en Kerkstraat skoon te maak en binne ’n uur en ’n half 30 sakke rommel opgetel. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N NUWE wêreldwye tendens op sosiale media om foto’s te neem en te pos van ’n vuil en besoedelde terrein en dan daarna ook ’n foto te neem en te pos van jouself met al die rommel netjies in sakke toegebind, het ook Oudtshoorniete aange­steek.

Dié tendens wat gepos word onder die hutsmerk #trashtag het sosiale media aan die gons en versprei soos ’n veldbrand.

Sowat 20 vrywilligers het Woensdagoggend die gebied by die Grobbelaarsrivier tussen St John- en Kerkstraat opgeruim.

Susan Botha, bestuurder van Trapsuutjies Projekte, wat die skoonmaakprojek geïnisieer het, sê daar is verlede week in Dysselsdorp ’n soortgelyke skoonmaakprojek aangepak wat net so suksesvol soos Woensdag s’n was.

• Stuur gerus foto’s aan Die Hoorn as jy ook inspring en iewers so opruim of skoonmaak – verkieslik ’n foto wat vooraf en een wat daarna geneem is.