‘Ons mense se stories’

DIE teateraanbieding by vanjaar se KKNK is vol stories wat ’n groot emosionele impak maak, stories wat persoonlike, intieme verhale vertel wat almal sal raak.

Die artistieke direkteur van die KKNK, Hugo Theart, sê: “Vanjaar se program is gevul met hartsverhale in alle genres. Daar is verskeie eg-Suid-Afrikaanse produksies wat outobiografies van aard is en ook verskeie wat gebaseer is op werklike gebeure en stories met historiese agtergrond. Dis ons mense se stories en ons mense se geskiedenis.”

Een van die KKNK se vlagskipproduksies, Die Atleet, is die outobiografiese storie van Reginald Hufkie, wie se lewenspad wye draaie met hom geloop het – van weeskind in die Oos-Kaap tot pryswenner-atleet en suksesvolle akteur. Dis ’n storie van deursettingsvermoë en wilskrag wat verskeie struikelblokke uit die weg ruim. Lizz Meiring het die teks geskryf en regie gedoen en Karin van der Laag is saam met Reginald in die toneelstuk te sien.

’n Plaaslike storie uit die Suid-Kaap is Karatara. Dis geskep deur twee van vanjaar se ontvangers van die Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stemme, Shaun Oelf en Grant van Ster en hulle dansgeselskap Figure of 8 Dance Collective, en vertel die storie van die nadraai van die Knysna-brande in 2018. Dit is die soort teater wat tot jou hart praat.

Zolani Mahola, hoofsanger van die groep Freshlyground, het met haar musiekteaterstuk, The One Who Sings, ’n benoeming gekry vir ’n Fleur du Cap-teaterprys en lof vanuit alle oorde ontvang tydens die produksie se speelvak in Kaapstad. Nou kry gehore in KKNK die geleentheid om saam met haar na haar verlede te reis waar sy met egtheid en deernis háár storie vertel. Die regisseur Faniswa Yisa is ook vir ’n Fleur du Cap benoem as beste nuwe regisseur.

Wit Isse Colour is gegrond op die outo-biografiese ervarings van die skrywer en digter Nathan Trantraal. Die kwessies van die dag is hier op die tafel. Belangrike vrae word hier gevra: met watter oë kyk ons na die geskiedenis, en wat doen ons met daardie inligting? Hoe kan ons dit gebruik om die toekoms te verbeter?

Nog ’n uiters persoonlike vertelling is die musiekteaterstuk Santa’s Story waarin die ope-rasangeres Aviva Pelham die storie van haar ma, Santa, vertel. Haar reis het op 17-jarige ouderdom begin, vanuit ’n oorloggeteisterde Europa na ’n nuwe lewe in Afrika. Van klein Duitse dorpies, as vlugteling deur Spanje, Frankryk en eindelik die destydse Rhodesië. Later vind sy haar holte in Suid-Afrika. Die musiek in die toneelstuk weerspieel die musiek wat Santa op haar reis teegekom het.
Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell is ’n biografiese toneelstuk wat die beken- de geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog met emosionele diepte deur die oë van een vrou aanpak. Nadat Susan Nell in die Winburg-konsentrasiekamp wreed­aar­dig verkrag en vir dood gelos word, oorleef sy.

Sy bekwaam haarself as siel­kun­- dige in Nederland en werk tydens die Eerste Wêreldoorlog in ’n psigiatriese hospitaal waar haar paaie met een van haar verkragters kruis wat vir bomskok behandel word.

Dis vir verskeie pryse by ander feeste benoem, en het pas ’n Fiësta gewen vir beste spel in ’n solovertoning vir Sandra Prinsloo.

Universele temas by vanjaar se KKNK
Brandbaar is ’n vertaling van Rehane Abrahams se toneelstuk Womb of Fire, wat KKNK toe kom met ’n string pryse wat dit reeds gewen het. Womb of Fire is met drie Woordpryse en twee Fleur du Cap-pryse bekroon en verweef historiese ware gebeure met eietydse werklikhede. Drie Suid-Afrikaanse vroue se stories word vertel deur tyd en oor kontinente heen. Dis intiem, snaaks, hartroerend en gaan jou laat nadink.

Die Dinge van ’n Kind, gebaseer op Marita van der Vyver se roman, vertel ’n storie wat bekend is vir Suid-Afrikaanse vroue – traumas uit die verlede word op ’n hartroerende manier verwerk in treffende toneelstuk met Cintaine Schutte in die hoofrol. Sy het hiervoor ’n Aardklop-prys vir beste solo-kunstenaar ontvang.

In Opdrifsel en Terminaal 3 word onder meer verlies ondersoek, en wat se impak dit het op veral ouers van kinders wat sterf. Brendan Daniels en Tinarie Van Wyk-Loots is in Opdrifsel te sien, en Anna-Mart van der Merwe, Edwin van der Walt, Carla Smith en André Roothman in Terminaal 3. Marthinus Basson het die regie en vertaling gedoen.

Queenie-hulle is ’n toneelstuk wat op ’n empatiese manier aandag gee aan ’n gemarginaliseerde groep mense wat dikwels misgekyk word: haweloses.

Dis ’n tragikomedie wat onlangs met drie Fiësta-pryse beloon is vir beste nuwe Afrikaanse teks, beste akteur (Brendan Daniels) en beste aanbieding.

Christo Davids en sy oom, Lloyd Davis, het die teks geskryf, en Christo behartig die regie.