DIE dood van Tazne van Wyk (8) van Elsiesrivier waarvoor Moyhdine Pangarker aangekeer is, het ou wonde vir Rosetta Pietersen weer oopgekrap.
Rosetta, van Ladismith, is die ma van Pangarker se seun wat dood is nadat hy deur sy pa ontvoer is. Klein Moyhdine was na sy pa vernoem.
Pangarker is in 2008 skuldig bevind aan ontvoering, kindermishandeling en strafbare manslag.
Rosetta sê: “Die hele ding met Tazne het my wonde weer rou gemaak. Ek het weer daardie nagmerries van destyds gekry toe ek en Moyhdine begin uitgaan het. Ek het hom in 1997 by die die Nissenville Tavern ontmoet. Ons het ’n verhouding gehad en ons seun is in 1998 gebore.
“Aanvanklik het dit goed gegaan tot hy sy ware kleure begin wys het. Ek is een aand na die klub laat roep. Ek het hom met ’n meisie gevang en is huis toe, maar hy het my gevolg. Ek is aangerand en hy het ook ons seuntjie begin slaan. Toe ons Kaap toe is, was klein Moyhdine twee jaar en ses maande oud. Hy het uiteindelik my kind so gemartel dat hy dood is op 15 Junie 2001.
“Die kind was in die hospitaal en Moyhdine het vir my kom sê die kind is dood. Ek moes hom gaan uitken in Tygerberg Hospitaal. Ek kon hom uitken aan sy boots, jeans en mostert-hempie. Tydens die polisie-ondersoek kon hulle agterkom dat Pangarker vir die seuntjie se dood verantwoordelik was.”
Pangarker was uit op parool tydens Tazne se dood. Hy is tydens die sowat twee jaar wat hy op Ladismith gewoon het deur die inwoners aanvaar omdat hulle geglo het hy was gerehabiliteer. Volgens Facebook-inskrywings van Ladismitters was hy behulpsaam en vriendelik en ’n “besorgde” pa. Hy het selfs werk by die plaaslike munisipaliteit op die vullis-wa gekry en later as sekuriteitswag by ’n klub.
Pietersen sê sy voel Tazne se ma se pyn. “Ek is ook deur daardie hel. My kind se lykie moes ek uit die Kaap bring en hier kom begrawe.” (Deur Deon Meyer)