MEDELYE het vandeesweek van regoor Oudtshoorn ingestroom na die dood van die oud-Struisie Antoinette Erasmus (29).
Antoinette is die naweek oorlede nadat sy ses maande gelede met kanker gediagnoseer is.
Sy is die dogter van Fanie Erasmus wat werksaam is by Absa en Lollies Erasmus.
Volgens Fanie het die kanker regdeur Antoinette se liggaam versprei.
Antoinette was ’n slimkop wat veral uitgeblink het in wiskunde. Sy het die graad B Sc wiskundige wetenskap asook ’n B Com Honneursgraad in operasionele navorsing cum laude aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Tydens haar matriekjaar aan die Hoërskool Oudtshoorn in 2008 was sy die skool se Dux-leerder en het sy ook die trofee vir die beste prestasie van graad 8 tot 12 ontvang asook ’n eretoekenning vir haar uitstaande bydrae op kultuur-, sport- leiers- en organisatoriese gebied.
Sy het in sewe van haar nege vakke onderskeidings gekry in die matriekeindeksamen.
Die skool het op hul Facebook-bladsy met “groot hartseer” afskeid van Antoinette geneem.
“Ons innige meegevoel aan haar familie met haar afsterwe die naweek. Struisies hou julle in ons gebede vas en gedenk haar nagedagtenis.
Antoinette sal altyd in ons harte voortleef,” het die skool in hul boodskap geskryf.
Antoinette se lewe word vandag tydens ’n diens om 11:00 by die NG Kerk Welgeluk in Van der Westhuizenstraat gevier.
Mense word versoek om nie swart by die diens te dra nie, siende dat dit ’n viering van haar lewe is. (Deur Stefan Skapie Goosen)