Die Kaap se nr 1-kosafslagwinkel, Foodeez, het onlangs sy deure in Langenhovenweg 61 op Oudtshoorn geopen en staan gereed om kos teen ’n bekostigbare prys aan die publiek te verkoop.
Stap mens die winkel binne begroet die netjiese rakke gepak met ’n groot verskeidenheid produkte jou – van himalayan salt, lekkergoed, blikkieskos en gesondheidsprodukte tot koekies, ontbytpap, koeldrank, jellie, tee, peuselhappies, konfyt en vele meer.
Die vriendelike personeel staan ook gereed om die publiek te help.
Foodeez, wat al sedert 2008 bestaan, staan bekend as die topverskaffer van nie-bederfbare produkte wat nie verkoop het toe dit op die rakke van verskeie bekende kettingwinkels was nie.
Dié produkte, wat andersins weggegooi sou word, word deur Foodeez aangekoop en herverkoop as ’n alternatief daarvoor dat dit vermors word deur dit weg te gooi.
“Alles wat hier verkoop word, is veilig vir menslike gebruik” sê die eienaar en bestuurder van Foodeez Oudtshoorn, Ben Meyer. “Ons is selfs goedgekeur deur die gesondheidsinspekteur van Oudtshoorn.”
“Dit is ’n wen-wen vir almal. Die vervaardiger verloor nie geld op die produkte wat nie gekoop is nie, en die koper kry voedsel teen ’n goedkoop prys.
Ons speel oop kaarte met die publiek en beantwoord graag hul vrae.”
Hy sê ’n derde van die wêreld se kos word weggegooi as dit nie teen ’n sekere datum verkoop is nie – kos wat naby hul vervaldatum is, verby die best before-datum is, die verpakking beskadig is, of in baie gevalle die gevolg is ’n mislukte produkloodsing of toetsproduksielopies wat nie via formele kleinhandelskanale verkoop is nie.
Baie van hierdie kos word nou deur Foodeez teen billiker pryse aan die publiek beskikbaar gestel.
“Foodeez wil kos bekostigbaar maak vir families en individue wat sukkel om kop bo water te hou,” sê Meyer.
Hy vertel van ’n man wat onlangs met trane van blydskap in sy oë vir hom vertel het dat hy by Foodeez die eerste keer in ’n baie lang tyd dit kon bekostig om weer twee sakke kos te koop.