Drie leerders van die Eljada Kairos Skool op Oudtshoorn, van links Chandré Claassen, Jeanive Claassen en Velenchia Swarts, en hul skoolmaats was Dinsdag doenig met wol vir die Oudtshoorn ReWOLusie. Foto: Christine Schoeman
Deur Liesel le Roux
MISKIEN het jy ook die laaste tyd gesien dat jonk en oud op Oudtshoorn aan die brei en aan die hekel is, of besig is om iets met wol te doen. Dalk het jy ook al gehoor daar is iets soos ’n Oudtshoorn ReWOLusie, en nou wonder jy wat is aan die gang.
Dié groot groep Oudtshoorniete – letterlik van skoolkinders tot inwoners van aftreeoorde – is almal betrokke by ’n interessante en positiewe én kreatiewe projek op die dorp wat later in Maart bekendgestel sal word.
En terwyl die brei- en hekelnaalde klap, en daar ook allerhande ander goed van wol gemaak word, is dit duidelik dat dié reWOLusie ook ’n positiewe invloed op die betrokkenes het.
“Ek wil net dankie sê hiervoor. Dit het my weer ’n doelwit gegee om elke dag vroeg op te staan,” het ’n inwoner van ’n aftreeoord op die dorp oor haar betrokkenheid gesê.
Mense wat kan brei of hekel en wat betrokke wil raak by dié projek, kan Madeleine Miles kontak by 083 436 1153.