Liesel le Roux
Uit ons gesprekke die afgelope weke met Oudtshoorniete wat betrokke was by die eerste KKNK, word dit duidelik dat die stigterslede en ander betrokkenes by die eerste fees nie net met opwinding onder inwoners te doen gekry het nie, maar dat dié nuwe inisiatief ook die jaar wat dit begin is, onder heelwat negatiwiteit deurgeloop het.
Dit is een van die baie interessanthede oor die begin van die KKNK waarvan baie nie bewus is of was nie.
Ons het die afgelope weke gehoor daar was diegene wat doodeenvoudig negatief was oor die idee van ’n kunstefees, en nie geglo het so ’n fees sal werk of mense sal dit besoek nie.
Daar was ook diegene op die dorp wat eerder ’n Langenhovenfees wou hê.
En daar was diegene wat gemeen het die inisiatief wil slegs ’n “wit” fees tot stand bring, met inwoners uit die “nie-wit” gemeenskappe wat erg gekritiseer is oor hul betrokkenheid.
Is hierdie nie dalk maar net normale groeipyne nie, veral in ’n diverse land soos Suid-Afrika? Dit is mos nie noodwendig verkeerd om met mekaar oor inisiatiewe te verskil nie?
Om die waarheid te sê, as ons verskil en bereid is om na mekaar te luister, kan dit saamwerk tot groei en die verbetering van dit waarmee ons ookal besig is – of dit nou die verfraaiing van Oudtshoorn, die inisiatief van ’n petisie oor die straatkindsituasie, of vanjaar se KKNK is.
Die realiteit is dat die KKNK – die fees wat baie nie ’n kans gegee het nie – wel suksesvol was en 25 jaar later steeds plaasvind.
Dit het oor die jare honderde duisende Suid-Afrikaners (en buitelanders) na Oudtshoorn en die Klein Karoo gebring, en letterlik baie mense se lewens verander.
Dit het op ekonomiese gebied ’n groot bydrae gelewer tot skole, kerke, inwoners (dink byvoorbeeld net aan verblyf wat verhuur is) en besighede in die dorp (en die Wes-Kaap) se voortbestaan; dit het loopbane van stapel gestuur, en talle geraak en geïnspireer. En ja, dit het gemeenskappe oor die jare nader na mekaar gebring, brûe begin bou, en baie se horisonne verbreed.
• Lees gerus in ons reeks oor die begin van die KKNK die onderhoud met Garnett Wicomb op bl 5.