Rosie Schoeman (links) by die bekendstelling van die 25ste KKNK op Oudtshoorn vroeër vanjaar. By haar van links is Annie Potgieter, Nellari Koen en Pieter Fourie, die eerste uitvoerende feesdirekteur. Foto: Ilse Jordan
Die tweede van ’n reeks waarin Die Hoorn gesels met van die baanbrekers betrokke by die eerste KKNK in 1995 op Oudtshoorn.
EEN van die stigterslede en dryfvere van die eerste KKNK, Rosie Schoeman (79), sê sy is dankbaar en steeds verwonderd oor die wyse waarop ’n droom gerealiseer het tot ’n kunstefees. Christine Schoeman het met dié vriendelike, gasvrye vrou by haar pragtige woning in die Oudtshoorn Afreeoord gesels.
Vertel ons van die eerste KKNK en jou betrokkenheid daarby
“Vir my bly dit tot vandag toe belangrik hoe alles bymekaar gesit is om uiteindelik ’n kunstefees op Oudtshoorn te kon aanbied.
“Onthou, dit was platteland, hier was niks nie. Daar was nie ’n saal met lugverkoeling nie, nie sale met ’n vloer wat skuins afloop na die verhoog nie. Dit was maar net skoolsale. En dit was baie warm.
“En daar was aan die begin negatiwiteit onder party mense, maar teen daardie negatiwiteit het ons moed gehou, beplan en saamgewerk.
“Ek was maar net ’n vrou uit die plaaslike gemeenskap wat gevra is om by die nuwe kunstefees betrokke te raak.
“Met die eerste fees het ons alles self gedoen – ek en Jans Rautenbach het kos gemaak vir die gaste van die fees/feesgangers, onder andere kerrieafval en tamatiebredie in Berluda se kombuis. Ons het dié kombuis sommer die Kannalandkamer genoem!
“Nog een van ons stigterslede, wyle Santie de Jager, het byvoorbeeld al die verblyfbesprekings met die hand geskryf!”
En toe begin die fees.
“Ek onthou ek het die eerste Saterdag met die eerste fees op die balkon van die Queen’s Hotel gestaan en die straat was só besig. Ek het die mense gesien en gedink: Aaa! We have arrived! Ek het nou nog daardie gevoel.
“Ek kon nie glo dat daar so baie mense gekom het nie.”
Uitreiking na bruin en swart gemeenskappe
Schoeman sê dit was opvallend by die eerste fees dat die feesgangers oorwegend wit was, en dat die fees erg daaroor gekritiseer is.
“Dit was nooit die bedoeling van die fees nie, maar dit is wat gebeur het en wat aangespreek moes word.
Met die evaluasie van die eerste fees is besluit om doelgerig uit te reik na die bruin en swart gemeenskappe om hulle by die fees te betrek.”
Volgens Schoeman was daar baie inisiatiewe oor die jare waarin iemand soos David Piedt ’n prominente rol gespeel het en wat die fees inklusief begin maak het.
“Jy moet net mekaar se hande vat en eerlik met mekaar wees, en jy moet ook bereid wees om te werk.
“Een van die baie fasette van die KKNK was die van brugbouer oor die jare, en daarop moet meer klem gelê word.
“Vir my het die KKNK baie beteken. Dit het my blootgestel aan ’n wyere kunstewêreld. In my persoonlike lewe het dit my verryk.
Ons was ’n span, maar elkeen het ’n plekkie gehad.”
Waarna sien jy uit by vanjaar se 25ste fees?
• Die Burger se gespreksreeks – Dit is wonderbaarlik. Ek luister dit graag soggens wanneer dit oor die radio uitegesaai word.
• Pieter Dirk Uys se Die Poggenpoels praat. – Ek verstom my aan hom, ek woon altyd sy optredes by die fees by.
• Frank Opperman se komiese drama Donkie.
• Jakkals en Wolf Onbeperk – dit is iets waarna ek my kleinkinders kan neem en dit saam met hulle kan kyk. Dit is vir my baie belangrik.
• Uit die bloute – Ek het die eerste produksie gesien en ek wil graag die nuwe herproduksie sien.
Watter vrae sal jy graag vir van die kunstenaars wat al betrokke was by die fees wil vra?
• Nataniël: Hoekom kom jy nie met jou boek van Frankryk nie?
• Steve Hofmeyer: Is jy spyt dat jy met Jan-Jan Joubert baklei het en nie meer fees toe kom nie?
• Karen Meiring en Bondina Osterhoff van Cut Glas: Ek wou die laaste jare weet waarom julle nie meer na die KKNK toe kom nie, maar ek sien darem julle is vanjaar weer hier!
• Karen Zoid: kan jy nog ’n kitaar stukkend slaan?
’n Inisiatief van Die Hoorn