Deur Liesel le Roux
DIT het regtig goed gegaan met die pas afgelope KKNK, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, aanbieder van die KKNK.
Volgens hom ontvang die KKNK tans uit baie oorde positiewe terugvoer oor vanjaar se 25ste fees – onder meer oor die standaard van die program, die feesterrein wat skoon en netjies was, ens.
Dit verbaas hom dat daar mense is wat nou al vir 25 jaar die doodsklokke vir die KKNK lui, sê hy. “Mens sou dink dat mense na ’n kwarteeu sal besef die Moederfees is hier om te bly.”
“Ek dink die fees is op die oomblik gesond. Ons is dankbaar om ’n hoofborg soos Absa te hê wat hulle einde verlede jaar opnuut vir drie jaar tot die fees verbind het. Die KKNK is een van die min feeste wat so ’n soort hoofborg het. En ons het ook al die ander getroue borge wat nog al die jare die fees ondersteun.”
Volgens hom is bywoningsyfers gelykstaande aan vorige jare met baie dagbesoekers uit die Oos- en Suid-Kaap. “Die finale syfers is nog nie beskikbaar nie maar dinge lyk baie positief na die 25ste fees.”
Hy sê bywoning van al die gesprekke – Die Burger se gespreksreeks asook die boeke- en teatergesprekke – het vanjaar “ontplof” met uitstekende bywoning.
Gesprek oor 2020-fees met inwoners
Theart sê die KKNK waardeer terugvoer en voorstelle van mense en beoog om binnekort soos verlede jaar weer die geleentheid vir gesprek met inwoners te skep.
“Daar is dikwels redes waarom dinge op ’n sekere manier gedoen word en dit is goed om dit met belanghebbendes te bespreek, maar ons waardeer dit altyd as iemand vir ons ander idees kan gee en sal dit ondersoek.
“Ons wil ’n ope uitnodiging aan almal in die dorp rig om te kom saamgesels wanneer daar so ’n geleentheid geskep gaan word, waarskynlik binnekort.”
“Ons sal ook graag met mense wil praat oor hoe die fees werk. Ons is byvoorbeeld ’n nie-winsgewende organisasie wat daarna streef om ons boeke te balanseer maar ook ’n verskil in die dorp te maak. Die fees is steeds ’n belangrike ekonomiese inspuiting vir die dorp, en dit lewer veral nou met die droogte wat die dorp ekonomies strem, ’n belangrike bydrae.”
Toekomsplanne en Kunste-akademie
Daar is reeds baie idees vir volgende jaar se KKNK en die toekoms van die kunstefees, sê Theart. “Kunstefeeste moet verander om dit vars te maak. Sulke veranderinge gebeur egter nie oornag nie.”
Projekte vir die toekoms wat reeds aan die gang is, is die Kunste-akademie en ’n poësie-projek ter nagedagtenis van Santi de Jager, ’n Oudtshoorniet wat betrokke was by die stigting van die KKNK en in die beginjare ’n uiters belangrike rol gespeel het. Dit sal onder meer skryf-werkswinkels insluit en ’n streeks- of feesdigter wat onder meer die drie amptelike tale van die Wes-Kaap sal bevorder.
Die Kunste-akademie is ’n projek vir en deur “die hele Oudtshoorn” wat die dorp ’n kunstemekka dwarsdeur die jaar wil maak, vertel Theart.
“Die akademie gaan oor deelname en sal funksioneer deur middel van vennootskappe, vrywilligers en mense wat daarin glo.
“Ons sal saamwerk met vennote soos die ATKV, Absa, die Universiteit Stellenbosch, en bestaande kunsprojekte. Ons het dus nie nodig om ’n nuwe wiel “te skep” nie – ons wil die bestaande projekte inspan om hier ’n verskil te maak.
“Ons hoop dit sal samehorigheid in die dorp en streek skep en uitendelik ’n impak hê op individue. Deur die kunste kan iemand selfvertroue kry, leer om ’n toespraak te lewer, leer om te droom…
“Baie mense is baie opgewonde oor die projek. Ons gaan dit stadig uitrol en bou daarop. As hierdie projek deurdag aangepak word, glo ek kan die akademie ’n enorme bydrae lewer om verskeie sosio-politiese probleme in die omgewing aan te spreek en ’n positiewe bydrae te lewer.
“Ons kan hier ’n bedryf bou wat sal baat by al die toeriste wat ons streek besoek. Dink net aan die moontlike geleenthede en werkskepping vir byvoorbeeld storievertellers en mense betrokke by handwerk (crafts).
“Hierdie is ’n droom wat al vir baie lank kom, baie lank voordat ek by die fees was. Die tyd is egter nou ryp en die regte mense het na die tafel gekom terwyl die munisipaliteit die projek steun met die Toekomsrus Gemeenskapsaal as tuiste vir die akademie.”