Marlo Minnaar is vir sy rol in Statements After an Arrest Under the Immorality Act by die pas afgelope KKNK benoem vir ’n Kanna-toekenning vir beste akteur. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
DIT is vir hom ’n groot eer dat hy benoem is vir ’n Kanna vir beste akteur by vanjaar se KKNK, sê Marlo Minnaar. Die Kannas word jaarliks toegeken vir uitnemende werk by dié fees.
Vir Marlo, wat op Oudtshoorn grootgeword en skoolgegaan het, kan sy optrede in Statements After an Arrest under the Immorality Act dalk ’n tweede Kanna in die sak bring. Hy was lid van ’n span van 25 akteurs wat ’n paar jaar gelede saam die Kanna vir beste akteur ontvang het vir die stuk Balbesit.
“Wie weet, dalk ‘kô die Kanna weer huis toe’ – met absolute apologie aan Adam Small,” sê hy tong in die kies.
Marlo vertel dat die toneelstuk hom so gedreineer het dat hy glad nie na al die toneelstukke kon gaan kyk wat hy wou nie.
“Ek moes na elke vertoning net ontspan en myself uit daai donker emosionele gat uit lig waarin ek geval het. Dis was nou wel nie so ’n fisiek uitdagende rol nie, maar psigies het die reis van die karakter my geweldig uitgeput.
“Dit is ’n verskriklike digte en poëtiese teks wat van jou gevra het om elke dag honderd persent te fokus voordat jy op die verhoog klim.”
Hy sê hy en sy mede-speler, Liezl de Kock, was aanvanklik baie selfbewus daaroor dat hulle vir oor ’n uur totaal naak moes wees op die verhoog.
“Hoe langer die speelvak geduur het, hoe meer het ons egter uit ons koppe beweeg en net begin konsentreer om die storie te vertel. Ons was bekommerd oor hoe gehore by die KKNK sou reageer, maar het mekaar konstant herinner dat die storie wat ons moes vertel, belangriker was as ons ego’s.
“Daar is nie ruimte vir ego’s in hierdie bedryf nie, jy offer jouself fisiek en emosioneel as ’t ware op om die realiteit te weerspieël.
Ek was nie baie bekommerd oor slegte of goeie kommentaar ná die vertoning nie, ek het volkome geglo in die teks, in my en my mede-speler se bekwaamheid, in die regisseur se visie en in die volle pakket van die visuele aspek van die produksie. Ek was meer geïnteresseerd om te hoor watter emosies by gehoorlede ontlok is, sodat ek as akteur meer begrip het oor hoe my karakter van buite gesien word.
“Die reaksie van die gehore was verbasend goed, en hoewel dit so ’n sensitiewe verhaal is wat ook dalk soms skok, het mense bly sit en daar was elke dag die gevoel dat die gehoor inkoop in die storie en hulleself vereenselwig met die karakters. Die stuk spreek immers temas aan waarmee ons vandag nog sit én waarteen ons baklei.
“Ons het ook hard probeer om dit nie prekerig te maak nie, maar ’n gewone gesprek tussen twee mense wat net mekaar lief het, met hierdie nagmerrie van surveillance rondom hulle.”
Hy sê ’n stemboodskap van Athol Fugard, die dramaturg, op die tweede dag van die fees aan hul regisseur, Greg Karvellas, en aan hom en Liezl was ’n hoogtepunt.
“Hy het ons bedank dat ons braaf genoeg was om sy werk, en veral hierdie spesifieke teks, aan te pak. Ek het hom al ’n paar keer ontmoet in my lewe, maar om sy stem te hoor en dat hy steeds so nederig is om tyd af te staan vir so ’n boodskap het my opnuut laat besef waarom ek doen wat ek doen en hoekom ek so lief is om stories te vertel – op die ou end is dít al waaroor dit gaan.”